
’n Skaapmelkkaas wat in die Bapsfontein-omgewing in Gauteng gemaak word, is vanjaar as een van wêreld se 66 topkase bekroon. Die Belnori-boetiekkaasmakery se Benedictus is een van net twee Suid-Afrikaanse kase wat op vanjaar se wêreldkaaskampioenskap in Spanje met “supergoud” vereer is.
Die ander kaas is Parmalat se Simonsberg-ses maande verouderde gouda. Meer as 3 000 kase uit 32 lande is vanjaar ingeskryf. Dit was Belnori én Parmalat se eerste supergoud. Me. Rina en mnr. Norman Belcher, eienaars van Belnori en vanjaar se Gautengse candidate vir Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar-kompetisie, is meer bekend vir hul bokmelkkaas en het slegs 26 skape.
Belcher sê omdat hulle so min skape het, maak hulle net elke ses tot agt weke skaapmelkkaas, wat dan sowat nege koppe van 1,5 kg elk oplewer. Dit word net op die weeklikse Hazel-kosmark in Pretoria verkoop. Die Belchers het dié kaas vanjaar die eerste keer ingeskryf.
‘Seëning’
Benedictus is ’n Italiaanse, pecorino-styl kaas. Belcher sê geen kaas kan eintlik pecorino genoem word as dit nie van skaapmelk gemaak word nie. Benedictus beteken “seëning” en Belcher sê die kaas “voel soos ’n seëning in jou mond”.
Dit is ’n harde kaas met ’n pikante smaak, en word vir minstens ses maande verouder. Die kaasmakery het ook twee bronspryse ontvang vir ’n bokmelk- en ’n beesmelkkaas. Parmalat se wennerkaas word by die Ladismith-aanleg gemaak en is volgens Parmalat by alle goeie kleinhandelaars beskikbaar.
Parmalat-kase het vanjaar die beste tot nog toe presteer deur ook nog twee goue, een silwer, en twee bronspryse te kry. Die goud was vir sy Président Brie en Simonsberg-24 maande verouderde gouda.
Mnr. André Mahoney, bemarkingshoof van Parmalat SA, sê die supergoud-prys bewys dat Parmalat se kase met die bestes internasionaal kan meeding. Ander Suid-Afrikaanse kaasmakers wat pryse gekry het, is Fairview, Foxenburg, Klein River, Dalewood en La Mont.