
Pistorius is vermoedelik tussen 03:00 en 07:00 noodlottig op sy plaas in by Piket Bo-Berg gewond. Met die polisie se aankoms op die toneel is Pistorius se lyk gevind. Dit was gedeeltelik deur ’n drom bedek. Hy is toe reeds deur mediese personeel dood verklaar. ’n Onbekende hoeveelheid kontant is uit Pistorius se lessenaar gesteel. Klagte van moord en roof word ondersoek.
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê sy veroordeel dié barbaarse daad ten sterkste. Sy versoek die polisie om alles moontlik te doen om te verseker dat die plegers van dié gruweldaad so gou as moontlik vasgetrek word.
Sy hoop ook dat verbeterde verhouding tussen boere, plaaswerkers, hul aangrensende gemeenskappe en die polisie sal help om ’n einde aan hierdie sinlose moorde te bring.
Bonnievale-moord
Die drie verdagtes wat van die moord op mnr. Jurie (Tool) Wessels en aanranding van sy vrou, Liezel, op die plaas Kapteinsdrift by Bonnievale in 2019 beskuldig word, het weer in die Bonnievale-landdroshof verskyn. Die verdagtes het verlede week hul eerste verskyning in die hof gemaak nadat hulle deur Lesotho aan Suid-Afrika uitgelewer is.
Die verdagtes word saam met ’n vierde verdagte, wat kort ná Wessels se moord in hegtenis geneem is, van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla. Die saak is na die Wes-Kaapse hooggeregshof oorgeplaas. ’n Voorverhoor vind op 9 September plaas.