
Die gehalte en prys van wyn van Suid-Afrikaanse se eie inheemse druifsoort, Pinotage, het die afgelope 21 jaar merkbaar verbeter. Dié vooruitgang bring groot voordele vir wynboere én plaaswerkers.
Mnr. Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage-assosiasie, sê Pinotage is nie meer net ’n alledaagse drinkwyn nie, maar word deesdae as ’n gerekende wêreldspeler beskou. Die kultivar het nie net op eie bodem vlamgevat nie, maar oorsese verkope van dié kultivar lyk ook goed. Verkope het die afgelope paar jaar met 73% geklim.
“Daar was enorme groei in die gehalte van Pinotage. Die kultivar het nie minder nie as drie keer internasionale wynmaker van die jaar-trofees by die internasionale wyn- en spiritualieëkompetisie in Londen opgelewer.
"Pinotage is nie meer die Aspoestertjie nie, maar dit het gevorder van geroeste spykers, soos Britse wynskrywers dit eens genoem het, na rooi goud en die troefkaart van die bedryf,” het hy tydens die bekendmaking van die Absa Top-10-toekennings vir Pinotage op Stellenbosch gesê.
Gehalte én prys
Soos die wyne se gehalte toegeneem het, het dit ook duurder geraak.
“Nie lank gelede nie het Pinotage altyd aan die laer ent van die prysspektrum gelê. Daar was ’n persepsie dat goedkoop wyn se gehalte nie goed is nie. Danksy verskeie bemarkingspogings hou Pinotage se prys nou kers vas met die bestes in Suid-Afrika en oorsee.”
Truter het Pinotage-wynmakers aangeraai om aan te hou innoverend wees.
“Een van die grootste en opwindendste veranderinge was dat die Pinotage-ouens nou regtig inpas met hul terroir. Pinotage-makers weet waar hul kultivar vandaan kom en is nie bang om dit in die wyn te wys nie. Moenie wegkruip nie; maak Pinotage wat die wêreld aan die brand maak!”
’n Pinotage-klassifikasiestelsel – ’n wêreldeerste – is moontlik op die kaarte, het hy gesê. “Ons wil ook internasionale Pinotage-dag uitbou. Die hele oes moet sommer op daardie dag uitverkoop!”
Wenners
Die Absa Top-10-kompetisie het vanjaar sy mondigwording met ’n spesiale museumklas-kategorie vir Pinotage-wyne ouer as tien jaar gevier. Dit toon die verouderingspotensiaal van dié kultivar, wat uit ’n Pinot Noir- en Hermitage (Cinsaut)-kruising ontstaan het. Neil Ellis Vineyard Selection Jonkershoek Pinotage 2007 het dié klas gewen.
“Pinotage verander met tyd. Dit raak glad en gebalanseerd. Ek dink wêreldwyd gaan museumklas Pinotages ’n groot kategorie raak,” meen Truter. Altesaam 147 Pinotages het meegeding om ’n plek in die top tien. Bykans die helfte hiervan het uit Stellenbosch gekom.
Kanonkop-landgoed teen die Simonsberg in Stellenbosch het geskiedenis gemaak deur vir die twaalfde keer ’n wyn onder die beste tien te hê. Die kelder se Pinotage 2012 het dié kroon gedra. Die ander wenners was: Delheim Pinotage 2012, Diemersfontein Carpe Diem Reserve 2015, Flagstone Writer’s Block Single Vineyard Pinotage 2015, Lanzerac Pionier Pinotage 2014, Môreson MKM 2015, Neil Ellis Bottelary Hills Pinotage 2015, Stellenbosch Vineyards Bushvine Pinotage 2015, La Cave Pinotage 2016, Windmeul Pinotage Reserve 2015.