
‘n Vennootskap tussen Pioneer Hi-Bred (verbonde aan DuPont Business) en Pannar Saad is deur die Mededingingsappèlhof goedgekeur. Luidens ‘n verklaring sal dié vennootskap Pioneer Hi-Bred ‘n meerderheidsaandeel in Pannar Saad gee.
Met dié beslissing het dié hof ‘n vroeëre besluit deur die Mededinginstribunaal omgekeer. Die goedkeuring is wel onderhewig aan sekere voorwaardes waaraan die ondernemings moet voldoen.
Die transaksie is reeds deur ander mededingingsliggame in ander Afrika-lande goedgekeur, waar goedkeuring nodig was. Dié lande sluit Kenia, Malawi, Namibië, Swaziland, Tanzanië en Zambië in.
Pannar se bestuur, werknemers en geriewe sal behou word. “Hierdie is goeie nuus vir ons kliënte, werknemers en vir Suid-Afrika,” aldus mnr. Brian Corbishley, voorsitter van Pannar. “Pioneer is die ideale vennoot vir die langtermyngroei van ons onderneming. Hierdie is ’n substansiële belegging van kapitaal en kundigheid in Suid-Afrika en ’n mosie van vertroue in die toekomstige potensiaal van die landbou in Afrika.”
Die finansiële voorwaardes van die ooreenkoms is nie bekend gemaak nie.
29 Mei 2012