
Die inkomste van Pioneer Foods se deurlopende bedrywighede het in die twaalf maande tot 30 September met 9% tot R17,7 miljard gegroei.
Luidens ’n opsomming oor sy finansiële resultate wat die groep op sy webblad gepubliseer het, kan dit grootliks toegeskryf word aan stygings in verkoopspryse, uitvoer en die verkoopsamestelling. “Sowel die mielie- as broodverkoopsvolume en -markaandeel het in die tweede halfjaar goed herstel.”
Die groep se bedryfswins voor items van ’n kapitale aard, aangepas vir die invloed van fase 1 van ’n swartbemagtigingstransaksie, het met 46% tot R1,680 miljard gestyg en sy aangepaste wesensverdienste met 38% tot R1,169 miljoen.
Die afdeling Essential Foods (Sasko) het in ’n uitdagende omgewing goed presteer, terwyl Bokomo Foods ’n hupstoot gekry het danksy ‘n groot vrugte-oes en stewige prestasie deur die graankosse-onderneming.
Quantum Foods, wat ontbondel is en op 6 Oktober genoteer is, se sake is in die jaar tot 30 September na winsgewendheid omgekeer. Pioneer sê dit is danksy goeie prestasie deur die voeronderneming, prysherstel in die eierafdeling, afskaling van die Wes-Kaapse braaihoenderbedrywighede en goeie prestasie deur Mega Eggs in Zambië.
Oor die jaar wat voorlê, sê die maatskappy die Suid-Afrikaanse ekonomie bly weerloos en herstel op kort termyn is onwaarskynlik.
Die groep glo egter hy het homself mededingend geherposisioneer om sy handelsmerke te beskerm en uit te brei.
Vanjaar was ’n bepalende jaar vir twee doelwitte: die versterking van sy handelsmerke en vergroting van marges.
Pioneer het ’n finale dividend van 86c verklaar, wat die totale dividend vir die boekjaar op 221c te staan bring, 67% meer as die vorige jaar se 132c per aandeel.