Die Pioneer-voedselgroep het vir die vier maande tot einde Januarie sy inkomste met 2,3% tot R5,5 miljard opgestoot. Dit word toegeskryf aan groter verkope in die meeste produkkategorieë, het mnr. Z.L. Combi, voorsitter, onlangs by die groep se jaarvergadering gesê.
Daar is egter faktore soos stygende brandstofpryse en elektrisiteitstariewe wat die maatskappy se koste kan verhoog, terwyl stygende koring- en mieliepryse en die kleiner rosyntjie-oes vanweë vloede in die Oranjeriviergebied, aankoopkoste van dié kommoditeite sal verhoog.
Verder waarsku Combi dat voedselprysstygings verwag kan word as gevolg van inflasiedruk vanweë stygende kommoditeitspryse op hul produkreeks.
Mnre. Z.L. Combi, Thys du Toit, George Eksteen, Antonie Jacobs, prof. Mohammad Karaan en me. Nonhlanhla Mjoli-Mncube is tot lede van die direksie herkies.
Pioneer Voedsel se aandeelprys was teen die tyd van publikasie R54,31 per aandeel.
3 Maart 2011