Die direksie van Pioneer Foods het stappe gedoen om bestuurders wat die Wet op Mededinging oortree het te straf.
Volgens ‘n aankondiging wat gister op die JSE se nuusdiens (Sens) gemaak is, het uitvoerende bestuurders van Pioneer nie vanjaar aansporingsbonusse gekry nie, en gaan uitvoerende direkteure nie in 2011 salarisverhogings kry nie. Nuwe aandele-aansporingsregte is ook nie aan die meeste lede van die bestuurspan toegeken nie.
Dissiplinêre stappe is teen 41 werknemers van die maatskappy gedoen. Een van die werknemers is onskuldig verklaar deur ‘n eksterne, onafhanklike beampte, 28 het skuld beken en geskrewe waarskuwings ontvang, terwyl stappe teen twee werknemers voortduur.
Pioneer het ook opgetree om soortgelyke voorvalle in die toekoms te probeer verhoed deur ‘n werknemer aan te stel om te help met die nakoming van maatskappy- en mededingingswetgewing en die maatskappy se etiese kode hersien. Sowat 1 900 werknemers het ‘n aanlyn-opleidingsessie oor nakoming van wetgewing deurloop.
Die strawwe wat die Mededingingstribunaal Pioneer opgelê het, het nie juis beleggersvertroue in die maatskappy gedemp nie. Die maatskappy se aandeelprys het sedert Junie van net oor die R40 per aandeel tot R57,80 per aandeel op 8 Desember gestyg voordat dit teruggesak en sedertdien tussen R54 en R55 per aandeel verhandel.
22 Desember 2010