
Die gemeenskap van Groblersdal is uit die veld geslaan oor 'n aanval op 'n leierboer van dié distrik.
Mnr. Herman Botha was 'n landbouleier wat in elke landboukomitee gedien het waar hy 'n bydrae kon maak. Met sy ervaring as eertydse kommandobevelvoerder was hy ook 'n aanwins vir Limpopo en die Groblersdal-omgewing se veiligheidstrukture.
Boonop was hy bekend vir sy goeie menseverhoudinge, of dit nou met sy plaaswerkers of die leierskorps van die georganiseerde landbou was.
Inligting
Botha is deur 11 gewapende mans in sy huis op sy plaas buite Groblersdal oorval. Mnr. Piet Groenewald, 'n vriend en sekuriteitspesialis wat gehelp het om die soektog na Botha se aanvallers te koördineer, sê die aanvallers het baie goeie inligting oor die plaasopstal en die sekuriteitsmaatreëls op die plaas gehad.
"Herman het in die week twee stente in die hooftoevoerare in sy hart gekry. Ek het hom Saterdagoggend raakgeloop en hy het ten spyte van die operasie heel fiks en energiek gelyk," vertel Groenewald.
Dit lyk of die aanvallers, wat met twee voertuie daar opgedaag het, toegang tot die huis gekry het deur die motorhuis wat half oop gestaan het vir die honde om in te kan gaan. Die honde is bedwelm en Botha se aanvallers het hom binne die huis ingewag toe sy seun, Bernard, hom by die huis afgelaai het nadat hulle by hul beeskrale was.
Beseer
Groenewald sê Botha het erge kopbeserings opgedoen voordat sy aanvallers hom in die badkamer vasgebind het. Hulle het Bernard, wat 'n spilpunt gaan inspekteer het nadat hy sy pa by die huis afgelaai het, in die motorhuis oorval en ook aangerand.
Hulle het hul buit, wat vuurwapens en televisies insluit, eers in Botha se Mercedes Benz gelaai, maar toe hulle dit nie in trurat kon kry nie het hulle in 'n Toyota Etios van mev. Meisie Botha (Botha se vrou) gevlug. Meisie en hul skoondogter, Benita, wat laaste op die toneel opgedaag het, is vasgebind, maar nie ernstig beseer nie. Hulle kon later hulp ontbied.
Botha is ongelukkig oorlede voordat hy per helikopter na 'n hospitaal geneem kon word. Daar word vermoed dat hy aan 'n hartaanval beswyk het. "Na die twee stente en die aanval was die skok net te veel vir sy liggaam," sê Groenewald.
Arrestasies
Twee van die verdagtes wat te voet gevlug het, is later Sondag gearresteer. 'n Derde verdagte is in die oggendure van Maandag gearresteer.
Die laaste verdagte, 'n Zimbabwiër, het by een van Botha se seuns gewerk. Die ander verdagtes wat aangekeer is, is ook almal Zimbabwiërs. Herman en Meisie se vuurwapens is by van die verdagtes gevind.
Groenewald sê die samewerking tussen die plaaswagte, die buurtwag in Groblersdal, die sekuriteitsmaatskappy Gunmar en sy eie maatskappy Wildlife Investigation & Protection Services (WIPS), was uitstekend. "Die gemeenskap en sy veiligheidstrukture het soos 'n goed-geoliede masjien saamgewerk."
"Ons het skaars 'n maand gelede kameras by Herman geïnstalleer. Hy het gevra dat ons dit net saans monitor. As ons daardie kameras 24-uur gemonitor het, kon ons die aanvallers in die huis vaskeer waar hulle vir Herman ingewag het."
Hoekom?
By ondervraging het die verdagtes glo gesê hulle was onder die indruk dat Botha baie geld by hom gehad het, daarom het hulle hom aangeval.
Botha het egter 'n punt daarvan gemaak om so min as moontlik kontant by hom te dra. Hy het glo selfs vir sy werkers bankrekeninge oopgemaak en hul lone elektronies oorbetaal.