
As die doodstraf nie in Suid-Afrika afgeskaf is nie, sou ’n regter twee plaasaanvallers op Ermelo ’n galgdood opgelê het, sê die TLU SA.
Mnr. Henry Geldenhuys, ondervoorsitter van die TLU SA se oos-streek, sê regter Sam Hallet het hom op 24 Mei 2012 ernstig uitgespreek teen die plaasaanvalle en -moorde wat landelike gemeenskappe bedreig.
“Hallet het gesê plaasaanvalle en -moorde het so algemeen geword dat mense hulle nie juis meer daaraan steur nie en dat dit tyd is dat ’n hof ’n streep trek deur die swaarste moontlike straf op te lê,” vertel Geldenhuys.
Hallet het Piet en Rita Botes, van die distrik Davel, se aanvallers elk ’n vonnis van 35 jaar tronkstraf opgelê. Die mans mag eers nadat 23 jaar van hul vonnis voltooi is, om parool aansoek doen. Die egpaar se kinders moet dan ook by die paroolverhoor betrokke wees.
Die aanval
Geldenhuys sê die bejaarde egpaar is op 12 November 2011 wreed aangeval en geroof. Die 73-jarige Rita is eerste aangeval terwyl Piet besig was om vee oor die pad te jaag. Met die 76-jarige Piet se tuiskoms, het hy uit sy bakkie geklim om ’n grassnyer wat die aanvallers in sy pad gestoot het, te skuif. Hy is toe deur die twee mans aangeval.
Die egpaar het erge beserings in die aanval opgedoen. Piet moes ’n operasie ondergaan om bloeding van sy brein te dreineer ná die aanval. Hy het intussen ook ’n beroerte gehad en het amper sy een been weens ’n bloedklont verloor. Geldenhuys sê volgens Piet se dokter kan dié gebeure aan die aanval toegeskryf word.
Die egpaar hospitaalrekeninge beloop tans meer as R100 000. Geldenhuys sê Botes – wat sy lewe lank al ’n boer is - het intussen ook aangedui dat hy die bedryf gaan verlaat.
28 Mei 2012