‘n Boer wie se gesig erg geskend is toe haar onderkaak agt jaar gelede in ‘n plaasaanval weggeskiet is, kan danksy die hulp van barmhartige Samaritane binnekort opnuut ‘n broodnodige chirurgiese rekonstruksie-operasie ondergaan.
Die 54-jarige me. Marietta Nel is in 2002 op haar familieplaas tussen Newcastle en Ladysmith vir R300 aangeval. Haar onderste kaak is met ‘n haelgeweer weggeskiet. Sy het alleen daar geboer nadat haar ouers oorlede is, en is sedertdien steeds op dié plaas. Sy is vasbeslote om daar te bly en te boer.
Die aanvanklike chirurgiese rekonstruksie aan haar gesig moet nou dringend opgevolg en verbeter word. Dit kan ‘n drastiese verskil aan haar lewensgehalte maak. Sy het onder meer steeds erge pyn van haelkorrels wat nie aanvanklik verwyder is nie.
Hulp
Omdat sy nie lid van ‘n siekefonds is nie, is sy op skenkings aangewese, wat deur die hulporganisasie Tabita vir haar ingesamel word. ‘n Plastiese chirurg van Kaapstad, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het ingestem om die opvolg-operasie te doen.
Tabita, wat hulp aan die slagoffers van plaasaanvalle verleen, is deur mev. Lita Fourie van Letsitele gestig nadat haar bejaarde ouers albei in ‘n grusame plaasaanval vermoor is. Sy staan Nel sedertdien by. Fourie sê hulle was al in Kaapstad vir die nodige voorbereidingwerk vir die opvolg-operasie. Nou verwag sy enige dag ‘n oproep dat Nel die volgende week daar moet wees.
Skenkings
Sy benodig nog dringend skenkings om die uitgawes te help finansier. Nel moet byvoorbeeld twee weke voor die operasie en vier weke daarna verblyf in die Kaap hê. Mense wat wil help, kan Fourie by 072 528 2276 of 072 542 7352 bel, of ‘n e-pos na tabita12@ovi.com stuur.
24 Februarie 2011