
Mischak Nkosinati Yika (27) en Temba William Yika (28) is in die rondgaande hof in Breyten skuldig bevind aan moord, poging tot moord, ontvoering, diefstal, huisbraak, besit van ’n vuurwapen en afvuur van ’n vuurwapen binne ’n beboude gebied. Die broers het aangedui dat hulle teen die vonnis gaan appelleer.
Lynn en Howarth is op hul plaas buite Dullstroom aangeval en ure lank gemartel voordat hulle in ’n veld afgelaai is. Lynn het steekwonde aan sy rug en bene opgedoen en is ook met ’n blaasvlam gebrand. Howarth is onder meer in die kop geskiet is. Sy het later aan haar beserings beswyk.
Lynn het ná die voorval teruggetrek Ierland toe nadat hy 30 jaar in Suid-Afrika gewoon het. Hy het tydens die hofsaak getuig, maar was nie teenwoordig vir die vonnisoplegging nie.
Hy het ’n brief gestuur wat as bewysstuk ingedien is: “Om my vrou, Susan, op hierdie totaal afgryslike manier te verloor, het my tot in my kern geruk. Ek sal nooit weer vrede hê nie. Ons vriende en familie is net so getraumatiseerd soos ek. Ek is in my eie tronk van vrees en totale hartseer as gevolg van hierdie gewelddadige dade teen my en Susan.”
Waarnemende regter me. Lineo Liphoto het in haar uitspraak gesê die wyse waarop Lynn en Howarth deur die beskuldigdes gemartel is, was vernederend, wreedaardig en onmenslik. Die hof moet die samelewing teen sulke gewetenlose individue beskerm.
Mnr. Johan Kloppers, berader by AfriForum se trauma-eenheid, wat Lynn sedert die aanval bystaan, sê hy is saam met hom en sy geliefdes dankbaar dat geregtigheid vandag kon geskied. “Hoewel ons verheug is oor die vonnis, weet ons dat geen vonnis die trauma van hierdie gebeure kan uitwis of verander nie. Geregtigheid het geskied, maar die seer en onthou is steeds daar. Nou kan Robert egter saam met sy geliefdes begin genees en vorentoe beweeg.”