
Vyf verdagtes wat vermoedelik by verskeie plaasaanvalle in die omgewing van Tzaneen betrokke was, is vroeg verlede week in hegtenis geneem in ’n gesamentlike polisie-operasie.
News24 berig twee van die vyf is tans op parool nadat hulle vonnisse vir gewapende roof uitgedien het. Die mans blyk lede te wees van ’n sindikaat wat in plaasaanvalle spesialiseer. Die polisie het ook 2 pistole 14 gewere en 318 patrone in een van die verdagtes se agterplaas gevind.
LEES OOK: Bloedbad op Suid-Afrikaanse plase
Georganiseerde misdaad
“Die blote feit dat die polisie na ’n sindikaat verwys, bevestig TLU SA se herhaalde siening dat plaasmoorde georganiseerde misdaad is en nie ‘normale misdaad’ nie, soos die polisie dikwels sê nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die organisasie se adjunkvoorsitter en veiligheidswoordvoerder.
Geldenhuys sê die feit dat twee van die verdagtes op parool was, dui op ’n gewilligheid van die regstelsel om ongerehabiliteerde misdadigers te vroeg vry te laat en hulle die kans gee om weer misdade te pleeg.
“Ons is baie bekommerd dat dié persone dalk weer om borg tog kan aansoek doen, wat hulle voor hul verhoor terug in die samelewing sal plaas. “ ’n Stelsel waarby mense met vorige veroordelings nie vir borgtog oorweeg kan word nie, moet ernstig oorweeg word,” sê hy.