
AfriForum het 'n hulpbron-analise van stapel gestuur by die Groblersdal-polisiekantoor in Limpopo ná die moord op 'n boer, mnr. Rudolf Pretorius (54) op sy plaas buite Groblersdal. Pretorius is geskiet en is op pad na die hospitaal in die mediese helikopter dood. Sy vrou is ook aangeval.
“Volgens gemeenskapslede het die polisie in dié omgewing 'n reuse-taak om te verrig weens 'n groot tekort aan mannekrag, voertuie en hulpbronne. AfriForum wil vasstel wat die omvang van die tekort aan hulpbronne is en sodoende druk op die polisie se provinsiale kantoor sit om spoedig die nodige aandag daaraan te gee,” het mnr. Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.
* In die distrik Reitz is die 47-jarige mnr. André van Greunen deur drie verdagtes in sy huis gewond. Van Greunen is in ’n stabiele toestand in die Dihlabeng-hospitaal op Bethlehem nadat hy deur gewapende aanvallers in die maag en in die regter-elmboog op sy plaas Danielsrus geskiet is. Hy het glo op die aanvallers teruggeskiet en een man noodlottig gewond.
Mnr. Jan van Niekerk, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, sê die toename in plaasaanvalle die afgelope maande in die provinsie is ’n ernstige bron van kommer.
Van Niekerk het die Menseregte-kommissie se ondersoek na plaasaanvalle verwelkom en dring daarop aan dat dit spoedig afgehandel word en dat die bevindings die nodige aandag sal geniet.