
Twee plaasaanvalle, wat die afgelope naweek tydens kerkdienste uitgevoer sou word, is deur die samewerking van die Polisie, boere en ’n beveiligingsmaatskappy afgeweer.
Mnr. Hannes de Jager, wat aan die stuur van ’n landelike beveiligingsmaatskappy is, het inligting gekry dat ’n aanval op mnr. Werner Weideman en sy gesin, wat in die distrik Hoopstad boer, beplan word.
Luidens ’n berig in Volksblad is beplanning om die aanvallers voor te lê, Saterdagnag (7 Julie 2012) gedoen. In dié sessie is verdere inligting ontvang dat die aanvallers glo besluit het om in twee groepe te verdeel en dat die tweede groep ’n plaas naby Wolmaranstad sou aanval.
’n Groot teenwoordigheid van boere en die Polisie het die aanval in Noordwes gekeer, maar die kans bestaan dat die aanvallers moontlik weer sal probeer.
Voorlê
Die aanval teen Weideman en sy gesin is beplan vir wanneer hulle Sondag (8 Julie 2012) van ’n kerkdiens sou terugkeer. De Jager het dié inligting aan mnr. Hennie Gerber van Vrystaat Landbou se intelligensie-afdeling oorgedra, waarna die boere en die Polisie betrek is.
Ná die Weidemans kerk toe is, is die plan in werking gestel en daar is op die aanvallers in die huis gewag. Hulle het egter onraad gemerk en op die vlug geslaan. Met behulp van Ao. Nic de Kock van die Polisie se spoorsnyers en sy span is twee van die verdagtes aangekeer. ’n Derde is gevang met behulp van ’n boer se private vliegtuig.
Klagtes teen die drie word tans geformuleer ná onder meer huisbraaktoerusting in hul besit gevind is.
Die Polisie van Bloemhof, Welkom en Bloemfontein, die intelligensie-afdeling van Vrystaat Landbou en sowat 30 boere van Hertzogville, Hoopstad en Bloemhof het saamgewerk om die aanvalle af te weer.
Bron: Volksblad