
Dit is ’n voortslepende krisis en vereis dringende ingryping.
Die vraag is wat die individu kan doen in die lig van leë beloftes en ’n regering wat sukkel, het mnr. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, aan ’n paneel gevra tydens ’n Nasie in Gesprek-sessie oor landelike veiligheid op Nampo Kaap.
Op die paneel was mnre. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, Uys van der Westhuizen, voorsitter van die landelike veiligheidskomitee van Agri Wes-Kaap, en Jan Visagie, sekretaris van die Kaapse Vlakte se landbou-assosiasie.
“Dit is ’n ernstige en komplekse probleem, en een wat nie ’n eenvoudige antwoord het nie,” het Vorster gesê.
Landelike veiligheid vereis ’n veelsydige benadering waarin oplossings gevind moet word, nie net wat betref die veiligheid van die boer se eiendom en plaas nie, maar ook binne die gemeenskap.
Visagie het gesê hoewel plaasaanvalle geëtiketteer is, word geweldadige misdaad nie net op plase gepleeg nie. Plaaslike gemeenskappe en klein besighede word ook geteiken. “Dit word uitgevoer deur mense wat uiters bekwaam is om ’n misdaad te pleeg. Hulle beplan die aanval haarfyn en weet presies wat om te doen.”
Mathews het dit beaam en gesê geweldmisdaad is nie beperk tot spesifieke plekke nie.
“Dit kan in Soweto of Sandton plaasvind. Geweldmisdaad is nie beperk tot waar jy bly, watter ras jy is of in watter sosiale klas jy jouself bevind nie.
“Dit is barbaarse gedrag wat onaanvaarbaar is.”
Mathews, wat saam met sy familie ’n plaasaanval oorleef het, het gesê dit is moeilik om te beskryf hoe ’n mens ná ’n aanval voel omdat dit jou lewe onherroeplik verander. “Ek moes doelbewus kies om daarna nie in vrees te leef en wraaksugtig te wees nie. Want wat sou ek daarmee bereik?
“Daardie dag, in ons sitkamer, toe ek my hande kon loskry en my familie help, het ek ’n keuse gemaak dat die aanval my nie sou definieer nie. Ek het geweier om daarna in konstante vrees in ’n hok te lewe. Maar dit was my eie persoonlike ervaring. My vrou, seun en dogter het hul eie ervaring daarna gehad . . .”
Skerp sekuriteit op
Tydens die gesprek het Mathews by tye emosioneel geraak toe hy oor daardie angswekkende dag in 2020 gepraat het.
“ ’n Mens moenie aanneem dat jy nooit ’n slagoffer van geweld gaan wees nie. Dit is ’n werklikheid vir ons almal. Sedert die aanval op my en my familie vra ek myself gereeld af wat ek vandag kan doen wat iemand anders kan help.”
Die voorval het Mathews gedwing om opnuut na die sekuriteit van sy plaas te kyk en dit te beskou “vanuit die oogpunt van ’n potensiële aanvaller”.
“Ek moes ander sekuriteitsmetodes in en rondom my huis aanbring om misdadigers so lank en so ver moontlik uit my huis te hou sodat ek tyd kan hê om hulp te ontbied.
“Ek moes praktiese en aktiewe stappe instel en opskerp.”
Nouer samewerking
Visagie meen een van die stappe is om nouer met die gemeenskap en plaaslike polisie saam te werk.
“Ons moet besef die nodige hulpbronne wat die polisie nodig het om hul werk te kan doen, word nie noodwendig altyd vir hulle gegee nie. Daarom moet ons nouer met die polisie, asook plaaslike amptenare samwerk om verhoudinge te versterk. Dit sal definitief beter vir ons almal wees.“Vra jouself byvoorbeeld af hoe goed jy jou plaaslike polisieman ken wat jou en jou gesin moet beskerm.”
Van der Westhuizen het gesê landelike veiligheid behels dat plase en dorpe interafhanklik van mekaar is.
“Dit is soos ’n klip wat jy in ’n dam gooi en ’n rimpeling veroorsaak. Net so begin alles by jouself, en brei dan uit na dié rondom jou. Ongelukkig is die werklikheid dat die staat nie altyd die rol vervul wat hy moet nie. Dus moet jy self iets daaraan doen.”
Stappe op die plaas
Volgens hom moet ’n mens jou persoonlike veiligheid opskerp sover jy kan, sonder om te voel dat jy in ’n hok toegesluit is. Dit behels ook om nouer met plaaslike sekuriteitsmaatskappye saam te werk.
“Sorg dat jy oral ligte om jou huis het en moenie bosse te dig laat groei nie. Kry ’n buurtwag met wie jy kan saamwerk, want die polisie kan nie oral wees nie. Dit is sodat wanneer jy in ’n noodsituasie daardie hulpknoppie druk, jy weet iemand is op pad.”
Visagie het gesê dit is belangrik om elke dag veiligheidsbewus te lewe en om jou omstandighede te evalueer.
“Moenie geleenthede skep waar aanvallers jou kan verras nie.”
Die probleem met die toepassing van plaaslike veiligheidsmaatre?ls lê egter dalk by die ontkenning van hoe belangrik die landbou vir die plaaslike gemeenskap is, het Van der Westhuizen gesê.
“Daar ontbreek dalk sekere belanghebbendes en daar is ander sake wat voorrang geniet. Gaan sit om ’n tafel met plaaslike amptenare en probeer maatskaplike probleme aanpak.”
Op ’n vraag oor vroue se rol het Mathews gesê sy ervaring is dat hulle jou herinner om veiligheidstandaarde te handhaaf.
“Vroue dink baie meer aan veiligheid, teenoor die boer wat heeltyd met die boerdery besig is. Ek meen jy en jou gesin moet saam besluit wat die vlak van gereedheid moet wees indien daar wel ’n aanval sou plaasvind.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.