
Die Delareyville-omgewing het vandeesweek onder twee afsonderlike voorvalle van plaasgeweld deurgeloop. In die eerste geval is mnr. Johan van Niekerk, broer van die Noordwes-koöperasie direkteur mnr. Christo van Niekerk, 36 keer met messe gesteek.
Mnr. Andre Pienaar, veiligheidskoördineerder van die Migdol-omgewing, wat Delareyville insluit, het aan Landbouweekblad gesê Johan van Niekerk is omstreeks 20:30 die aand van Dinsdag, 6 Desember, aangeval nadat hy van sy buurman teruggekeer het.
“Johan van Niekerk is deur vyf aanvallers oorval en sowat 36 keer met messe gesteek. Sy vrou het gesien haar man word deur twee mense na die huis gebring en sy het onmiddellik geweet dat dit ’n aanval op haar man is. Toe sy by die huis uithardloop, het die aanvallers weggehardloop,” het Pienaar gesê.
Dr. Morne Beer, wat in ’n huis op die plaas woon, sowel as me. Judy Kotze, wat as klinieksuster in die omgewing werk en ook op die plaas bly, het Van Niekerk gestabiliseer voordat hy met ’n kombi na ’n hospitaal op Klerksdorp gehaas is. Boere van die omgewing het die aanvallers se spore tot by ’n teerpad gevolg waar hulle moontlik opgelaai is.Van Niekerk was met druktyd nog in ’n kritieke toestand.
Geen verdagtes is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie. “Ons is nog nie seker wat die motief van die aanval kon wees nie. Wat dit erger maak is dat Johan bekend is vir die mooi manier waarop hy sy mense behandel,” het Pienaar gesê. Beide Johan en Christo van Niekerk is verlede jaar vereer met ’n toekenning van NWK vir hulle bystand aan opkomende melkboere.
Me. Gerna Breytenbach, Johan van Niekerk se dogter, het dr. Beer en me. Kotze bedank vir hulle vinnige optrede en meen dat hulle haar pa se lewe gered het. Sy het die boeregemeenskap bedank vir hul vinnige optrede om die aanvallers te probeer aankeer. “In hierdie moeilike tyd wil ons graag die gemeenskap van Delareyville bedank vir hulle ondersteuning, maar ons wil ook graag vra dat ons privaatheid in die tussentyd gerespekteer moet word,” het Breytenbach gevra.
In die tweede aanval is me. Petro Jacobs die oggend van 7 Desember omstreeks 06:30 in haar gastehuis, wat sy van ’n plaas in die Delareyville-omgewing bedryf, deur twee aanvallers oorval. Me. Jacobs is aangerand en met ’n mes in die hand gesteek. ’n Tuinwerker wat haar wou beskerm is ook met ’n mes in die keel gesteek.
Twee vuurwapens is onder meer tydens die rooftog gesteel. “Boere van die omgewing is omstreeks sewe-uur van die aanval in kennis gestel en ons het onmiddellik gereageer en na die verdagtes begin soek. Een van die verdagtes is binne enkele ure in hegtenis geneem, terwyl die tweede ook later die middag gevang is. Beide vuurwapens is ook teruggekry,” het Pienaar gesê.
Hy het onder meer groot dank vir mnr. Ruan Nienaber van die Kameel-omgewing uitgespreek, wat sy helikopter beskikbaar gestel het vir die soektog na die vermeende aanvaller.
Intussen sê Pienaar Delaryeville en omstreke se gemeenskap staan saam om die slagoffers en hulle families te ondersteun. “Daar is reeds boere wat hulp aangebied het om met Johan van Niekerk se boerdery te help totdat hy weer op die been is,” sê hy.