Die bekendstelling van die reservistebeleid wat met plaasveiliging kan help, het 'n voorrangsaak geword, sê Agri Gauteng.
Mnr. Nathi Mthetwha, Minister van Veiligheid en Sekuriteit, moet die bekendstelling van die reservistebeleid 'n voorrangsaak maak. Só eis mnr. Dirk Hanekom, hoofbestuurder van Agri Gauteng. "Op die oomblik is daar verdeelheid tussen boere en die polisie en dié belemmer plaasbeveiliging."
Hanekom meen die reservistebeleid, tesame met die nodige hulpbronne vir reserviste, kan lei tot beter bekamping van plaasaanvalle.
"Gauteng se boeregemeenskap moet weekliks met afgryse hoor van nóg 'n plaasaanval, waarin 'n oom en tannie op die mees brutale manier geskend en vermoor is."
Hanekom sê plaasmoorde skeur families uitmekaar en ontwrig plaaswerkers, omdat hulle heenkome op plase bedreig word. "Plaasaanvalle neem toe, ongeag hoeveel energie die polisie aan misdaadvoorkoming bestee. Dit voorpel niks goeds vir voedselproduksie of -sekerheid vir Suid-Afrika nie."
Hanekom het ook uitgevaar oor die tekort aan betroubare statistiek oor plaasaanvalle. "Dit maak dit baie moeiliker om plaasgeweld doeltreffend te bestry."
23 Februarie 2012