
Plaasaanvalle is ’n uitsonderlike tipe misdaad wat uitsonderlike optrede verg om dit te bekamp, was die kern van verskeie pleidooie tydens ’n openbare verhoor oor veiligheid op plase deur die Menseregtekommissie (MRK) in Johannesburg.
Die openbare verhoor oor die invloed van plaasaanvalle op die menseregte van boeregemeenskappe volg ná klagtes deur die burgerregte-organisasie, AfriForum, hieroor. Mnr. Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, het gesê plaasaanvalle is uniek weens vier redes: Dit is uniek weens die buitengewone hoë frekwensie van aanvalle, die uiterste vlakke van wreedheid en marteling wat daarmee gepaard gaan, die buitengewone rol wat boere speel om werk te skep en kos te produseer en die feit dat hulle onbeskermd in afgeleë gebiede woon.
Ter illustrasie van die hoë voorkoms van aanvalle het die TLU SA statistiek van die Instituut vir Veiligheidstudies voorgehou wat toon dat die moordgemiddeld onder die algemene publiek per 100 000 van die bevolking 31 is. In die geval van polisielede is dit 54 en by boere 133.
Genl.maj. Chris van Zyl, adjunk-hoofbestuurder van TLU SA, het gesê volgens die organisasie se eie statistiek was daar 1 734 plaasmoorde en 3 341 plaasaanvalle sedert Januarie 1990. Die meeste was in Gauteng (383 moorde en 698 aanvalle), gevolg deur Mpumalanga (239 moorde en 646 aanvalle), Noordwes (251 moorde en 573 aanvalle) en Limpopo (184 moorde en 391 aanvalle).
Hy sê die swye uit amptelike oorde en die halfhartige implementering van die landelike veiligheidstrategie versterk die persepsie binne boeregemeenskappe dat hulle as “wettige teikens” geag word wat nie behoorlike beskerming verdien nie. Hy sê daar is steeds ’n “ons” en “hulle”-houding en vanaf ministeriële vlak word plaasaanvalle nie veroordeel nie.
“Sekerlik verdien die krities belangrike rol van die landbougemeenskap, na 20 jaar van ’n nuwe bedeling, tog almal se ongekwalifiseerde steun.”
Roets sê die erns van die probleem word deur die owerhede misken. Die situasie word vereger deur ’n onstuimige politieke klimaat waarbinne boere as slaansakke gebruik word. Die enigste volhoubare oplossing is om die probleem van alle kante te takel.
Mnr. Motsepe Matlala, Nafu-voorsitter wat self in Mpumalanga boer, het getuig baie swart en wit boere verlaat hul plase oor geweld.