Plaasaanvalle neem toe in KwaZulu-Natal, terwyl verkragting in landelike gebiede ook ’n styging getoon het. Mnr. Robin Barnsley, voorsitter van KwaNalu, sê 39 plaasaanvalle en 10 -moorde het verlede jaar in KwaZulu-Natal voorgekom, terwyl 36 aanvalle en 6 moorde in 2009 aangeteken is.
“Sedert 2003 het ons syfers ’n stelselmatige daling aangedui, maar dit het van 2009 tot verlede jaar weer begin styg. Dit is totaal onaanvaarbaar, en dan moet ’n mens jouself afvra: As jy praat en baklei met die polisie dat hulle hul werk moet doen, hoekom vind misdade soos dié steeds plaas?” wil Barnsley weet.
Volgens Barnsley kan veral die druk ekonomiese situasie wat die afgelope paar jaar ervaar is een van die oorsake van die toename wees, asook spanning rondom grondhervorming.
Vrou se hart uitgesny
In een van die jongste voorvalle in die provinsie is ’n vrou se liggaam vroeër die maand op die plaas, Mooiplaas, naby Vryheid gevind. Luidens ’n berig op Nuus24.com was me. Buyi Xaba se liggaam naak, haar borskas oopgesny en haar hart verwyder.
Drie verdagtes is vir haar moord aangekeer en een van hulle is ’n 40-jarige tradisionele geneesheer is. Hulle het op Maandag (14 Maart) in die landdroshof op Vryheid verskyn.
30% toename in verkragting
Intussen sê mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se komitee vir Wet en Orde, op die organisasie se landelike veiligheidsvergadering wat Maandag (14 Maart) plaasgevind het, is opgemerk dat verkragting onder vroue in landelike gebiede en op plase tussen die derde en vierde kwartale van verlede jaar ’n aansienlike styging getoon het.
“Daar is iets in die omgewing van 30% aangedui,” sê Botha.
“Ná aansienlike stygings in dié syfers vroeër verlede jaar het ons die polisie gevra om spesifiek aan onwettige drinkplekke in landelike gebiede aandag te skenk, want baie van dié kwaad broei op sulke plekke uit,” vertel Botha.
14 Maart 2011
Bron: Nuus24.com