
Die reuse-impak van ’n plaasaanval is duidelik te sien in die aanval se chaotiese naloop. Basiese kennis van noodhulp, die beveiliging van die misdaadtoneel, die misdaadondersoek en die regsproses kan ’n belangrike rol speel in die pad na herstel van só ’n traumatiese gebeurtenis.
Boere moet voorsiening maak vir die volgende scenario’s ná ’n aanval of rooftog, sê genl.maj. Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van die TLU SA:
- Skakeling met die SAPD
- Noodhulp vir beseerdes;
- Beveiliging van die misdaadtoneel;
- Aktivering van die gebiedsbeveiligingsplan, wat onder meer die volg van spore, lugverkenning, voorstaandienste by padaansluitings, kruispaaie en drukpunte (brûe), en die omsien na kinders en bejaardes wat alleen en kwesbaar is, behels;
- Deeglike verklarings, verkieslik met kundige bystand;
- Hulpverlening aan naasbestaandes met die uitvoer van roetinetake op die plaaswerf;
- Trauma-ontlonting.
Noodnommers
Mnr. Nantes Kelder, hoof van die ondersoek-en-trauma-eenheid van AfriForum, sê boere moet eerstens sorg dat hulle by die plaaslike plaaswag ingeskakel is. Dit is aangesien die lede van ’n plaaswag in radioverbinding met mekaar is en ná ’n plaasaanval deurslaggewende bystand en ondersteuning kan bied.
“Plase is dikwels ver en afgeleë. Daarom is dit makliker om eers met die plaaswag te skakel, wat op sy beurt met die nooddienste, soos die polisie en ambulansdienste, sal kommunikeer. As daar nie ’n plaaswag is nie, hou jou naaste bure se nommers byderhand, en ook dié van die polisie- en ambulansdiens.”
Van Zyl beaam dit. “Radioverbinding met lede van die plaaswag is die doeltreffendste manier om ’n noodoproep by meer as een mens uit te kry met dien verstande dat die buurman waarskynlik die naaste is en vinnig hulp kan verleen.” Daarbenewens moet die kontakbesonderhede van die SAPD, ’n plaaslike sekerheidsdiens en die plaaslike dokter, hospitaal of ambulansdiens byderhand wees.
LEES OOK: Plaasveiligheid: Wanneer mag jy skiet?
Belangrike noodhulpbeginsels
Me. Hilsje van der Vinne, ’n assessor en opgeleide ambulansnoodassistent van Dynamikos, sê mense moet weet wanneer dit raadsaam is om eerder ’n gewonde mens na die plaaslike hospitaal te neem en wanneer ’n mens iemand op die toneel moet stabiliseer totdat paramedici opdaag.
“Dit hang af van die mens se toestand en waarmee jy hom of haar vervoer. In die geval van iemand wat byvoorbeeld kardiopulmonêre resussitasie (KPR) nodig het, wat ek agterop ’n bakkie kan toepas, sal ek nie op die toneel wag nie tensy die ambulans binne 15 minute daar kan wees. Daarteenoor moet mense met nek- en rugbeserings verkieslik met die ambulans en die regte toerusting vervoer word, anders kan permanente skade, soos verlamming, veroorsaak word.
“In die geval van ernstige bloeding wat lewensbedreigend is, en ’n ambulans wat nie gou beskikbaar gaan wees nie, sal ek private vervoer gebruik, mits daar plek is vir die pasiënt om te lê en ’n noodhelper langs hom of haar kan sit en skokbehandeling toepas.”
Noodhulpopleiding is ’n goeie belegging omdat die tyd wat dit kos vir ’n ambulans om op te daag, kan wissel – veral in die geval van verafgeleë plase. “Iemand wat nie meer asemhaal nie, het sowat vier tot ses minute voordat breinskade intree, en erge bloedverlies (soos in die geval van slagaarbloeding) kan lewensbedreigend wees. Met noodhulpopleiding word ’n mens geleer om dit te herken en te hanteer.”
Tydens ’n mediese noodgeval is dit uiters belangrik om koelkop te bly, sê Van der Vinne. “Al wat jy vir jouself moet sê, is ‘dit wat gebeur het, kan ek nie verander nie’. Moenie al jou aandag toespits op die gebreekte been of lelike wond nie. Oppas vir tonnelvisie – kyk na die hele pasiënt (helikoptervisie).
“Wat my help as ek KPR moet toepas, is om vir myself te sê: ‘Hy lewe nie meer nie, ek kan hom dus nie doodmaak nie. Wat ek ook al doen – dit hang nie van my af of dit suksesvol gaan wees of nie, maar ten minste kry die brein suurstof.’ Met ’n noodhulpagtergrond kan ’n mens heelwat doen vir iemand wat seergekry het.”
LEES OOK: Veiligheid: Só werk burgerlike arrestasie
Bystand van bure
Bure is die naaste (dog nie altyd die beste nie) bron van hulp en/of ondersteuning. Dit sal raadsaam wees om betyds met hulle te reël vir die volgende, sê Van Zyl:
- Inligting aan familie en ander naasbestaandes wat moet kennis dra in geval van ’n voorval. Name en kontaknommers moet verskaf word.
- Roetinetake op die werf (soos die versorging van troeteldiere) en op die res van die plaas wat aandag verg.
- Die “nasorg” wat bure kan verleen, veral ten opsigte van gedragsverandering wat moontlik op erge trauma by die slagoffer kan dui, verg aandag.
In 'n opvolgartikel sal die beveiliging van die misdaadtoneel, die proses rondom aflê van verklarings, die hofsaak en herstelproses bespreek. Hou Landbou.com dop vir dié artikel.