
Die staat is medepligtig aan plaasaanvalle as hulle nie borgtog teenstaan vir verdagtes in dié sake nie. Só sê mnr. Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, nadat twee vermeende rowers wat op ’n plaas toegeslaan het, Woensdag, 12 November, op Mokopane (Potgietersrus) op borgtog vrygelaat is.
Netwerk24 berig dat Bento Kambimda (40) en Max Mumbumba (38) glo betrokke was by die rooftog op 22 Oktober op Gerda Botha (34) en haar seun, Dean (11), op ’n plaas buite Mookgophong (Naboomspruit).
Die vier mans het by ’n traliehek voor die agterdeur ingebreek. Hulle het haar gedwing om die kluis oop te sluit en toe haar arms en bene vasgebind. Dean het kaalvoet uit die huis gehardloop en ure lank in die veld geskuil totdat die polisie opgedaag het.
Botha en Dean het daarna van die plaas verhuis en woon nou in Mookgophong. Hulle albei kry berading.
Landdros Gerhard Pretorius het die saak tot 28 November uitgestel.
Bron: Netwerk24