
Twee veroordeelde plaasaanvallers – wat mnr. Pieter en mev. Henriëtta Botes in 2011 op hul plaas, Remhoogte in Mpumalanga, wreedaardig aangeval het – se gevangenisstraf van 35 jaar is met 15 jaar ingekort, sê mnr. Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
Cameron sê in 'n nuusverklaring 'n regter van die Noord-Gautengse Hooggeregshof het bevind dat die landdros wat dié twee tronkstraf van 35 jaar opgelê het, die “erns van die misdaad oorbeklemtoon” het.
“Die regbank het uit simpatie die vonnis van Mzakwe Isaac Madonsela en John Sipho Nkosi verminder. Hierdie bevinding het my stomgeslaan. AfriForum eis swaarder strawwe vir plaasaanvallers,” sê Cameron.
“Die Instituut vir Sekerheidstudies se navorsing toon dat 'n boer se kans om vermoor te word twee keer groter is as dié van polisiebeamptes.”
Genl. Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, het tydens 'n openbare verhoor van die SA Menseregtekommissie oor plaasmoorde erken dat sowat 245 boere in sowat 2 227 plaasaanvalle die afgelope vier jaar in Suid-Afrika vermoor is.
“Ons pleit dat plaasmoorde geprioritiseer word. Plaasaanvallers moet ook swaarder gestraf word met die boodskap dat dié gewelddadige misdaadvoorvalle nie geduld sal word nie.”