
Drie plaasaanvallers en twee veediewe is op Maandag, 27 Februarie, gesamentlik deur die polisie en boere in die Oos-Vrystaat vasgetrek.
Vrystaat Landbou (VL) sê in ’n mediaverklaring honderde boere het na ’n plaasaanval by Arlington saam met die polisie gewerk om die aanvallers aan te keer. As deel van dié aksie is twee “vermeende veediewe op heterdaad by Edenville aangekeer”.
Me. Pauline van Zyl is Maandagaand omstreek 18:00 deur drie verdagtes op die plaas Roodekraal in die Arlington-distrik aangeval en gevange gehou terwyl die aanvallers haar man, Stefan, ingewag het. Sy het daarin geslaag om hulp te ontbied en sowat 50 boere het “paaie in die omgewing afgekordon”. Al drie verdagtes is deur die loop van die nag in hegtenis geneem en Van Zyl is in ’n plaaslike hospital opgeneem vir waarneming.
Boere uit sowat 10 ander distrikte het ook opgetrek en paaie versper. Gedurende dié aksie het boere in die Edenville-distrik om sowat 22:00 na ’n toneel ontbied waar twee verdagtes op heterdaad betrap is terwyl hulle besig was om beeste te laai. “Drie ander verdagtes word nog in dié verband gesoek.”
“Doen alles binne jou vermoë binne die landelike beveiligingsplan en die plaaslike veiligheidstrukture om jouself, jou gesin, werkers en eiendom te beveilig en aan misdadigers ’n duidelike boodskap te stuur in terme van plaasaanvalle, veediefstal en ander misdade op plase,” sê mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se landelik veiligheidskomitee.