
Toyota maak die heel beste plaasbakkies en basta … dis omtrent die boodskap van ‘n meningsopname wat pas op Landbou.com gedoen is.
Toyota se Hilux en Landcruiser het onderskeidelik met ‘n goue en silwer medalje skoonskip gemaak in www.landbou.com se eie plaasbakkie-olimpiade. Die Isuzu KB het ‘n stewige derde plek ingepalm en daarmee ‘n brons medalje verdien.
In dié opname, wat oor twee weke gestrek het, is webwerfbesoekers gevra watter plaasbakkie (enkelkajuit) hulle as die beste in Suid-Afrika beskou.
Die keuselys het uit 10 verskillende bakkies van die sewe gewildste vervaardigers bestaan en altesame 1 396 webwerfbesoekers het aan die opname deelgeneem. Die uitslag was:
Toyota Hilux (27%/372 stemme).
Toyota Landcruiser (26%/364 stemme).
Isuzu KB (21%/285 stemme).
Ford Ranger (11%/156 stemme).
VW Amarok (4%/51 stemme).
Nissan NP300 Hardbody (3%/44 stemme).
Nissan Patrol (2%/34 stemme).
Mazda BT50 (2%/23 stemme).
Nissan Navara (1%/13 stemme).
Mitsubishi Triton (1%/12 stemme).
Twee present (13 stemme) het aangedui dat hulle voorkeur-plaasbakkie nie op die keuselys beskikbaar was nie.
En, om die waarheid te sê, hierdie uitslag van die meningsopname is in meer as een opsig baie interessant: Dit toon byvoorbeeld duidelik dat die voorkeur vir ‘n besondere plaasbakkie nie noodwendig verband hou met die spesifieke model se verkoopsyfer nie . . . anders sou die Ford Ranger mos immers veel nader aan die drie voorlopers by die wenpaal geëindig het!