’n Skynbare misverstand op ‘n plaas by Komatipoort het gemoedere byna onhanteerbaar opgejaag toe ‘n groep mense die grond “beset” het.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, sê die unie het homself op die hoogte probeer stel van die geval toe ’n aantal mense op ’n plaas opgedaag het om die boer te beveel om die grond te verlaat.
Van Zyl sê die betrokke plaas is skynbaar reeds as deel van die grondhervormingsproses aan ’n nuwe eienaar oorgedra nadat daar ’n eis op die plaas was. Die nuwe eienaar het blykbaar met die boer ’n kontrak aangegaan dat dié nog vir ’n sekere tyd die plaas sou huur en voortgaan met sy boerderybedrywighede. Die boer is nie lid van die TLU SA nie.
’n Geskil het skynbaar ontstaan nadat die nuwe eienaar nie ten volle vertroud was met die inhoud van die huurkontrak nie, en wou die huurder summier van die plaas verwyder.
Die TLU SA is in hierdie geval tevrede dat die polisie inderdaad opgetree het en die saak ontlont het. Die unie is egter diep bekommerd oor die aggressie en arrogansie wat deur die skare vertoon is, en dit het wel aan ’n Zimbabwe-gebeure laat herinner. Hierdie was net van ’n skynbare misverstand ter sprake, en dit het reeds die gemoedere byna onhanteerbaar opgejaag. Weer eens was dit die polisie wat die situasie korrek hanteer het.
Van Zyl sê hierdie situasie het weer bewys hoe noodsaaklik dit is dat boere deel moet word van die georganiseerde landbou. Waar boere in strukture verenig is, kan sodanige optrede vroegtydig gehanteer word. ’n Beroep is op nie-lede en onbetrokke boere gedoen om by die landbou-unie aan te sluit.
9 Mei 2012