’n Plaasbestuurder van Delmas in Mpumalanga is onlangs vermoor by ’n spilpunt gevind.
Mnr. Koot Claassen, voorsitter van Agri Mpumalanga, sê die 51-jarige mnr. Johan Lombaard is Donderdagaand (10 November 2011) vermoor. Lombaard het die afgelope 21 jaar vir Claassen as ’n bestuurder gewerk.
“Hy was soos ‘n kind in my huis. Sy lojaliteit en ondersteuning was vir my van onskatbare waarde. Hy het nooit teruggestaan om iets te doen nie. Ek kon dinge met gerustheid aan hom oorlaat. Dit is ’n groot leemte wat hy agterlaat,” vertel Claassen.
Die plaas se span is tans besig om mielies te plant en Lombaard is rondom 20:00 na die trekkers in die landerye. Hy het glo ’n fiets by ’n ry bome naby die spilpunt gesien, en gaan ondersoek instel.
Motief
Die werkers sê hulle het gesien dat die bakkie by die spilpunt stop en dat dit ’n ruk lank stilstaan. Kort daarna het die bakkie in die rigting van die snelweg gery, weg van hulle af. Hulle het die tweede plaasbestuurder gebel om hulle te kom oplaai, waarná die groep na Lombaard gaan soek het.
Claassen sê die motief vir die moord is nog nie bekend nie. Hulle het wel groot las van diewe wat koperdraad uit die spilpunte steel, en hulle vermoed dat Lombaard ’n groep betrap het, wat hom toe oorrompel en doodgemaak het.
Een verdagte is oor die naweek in hegtenis geneem ná ’n groep mans glo by ’n plaaslike taverne oor die voorval gepraat het. Ander inhegtenisnames word binnekort verwag.
Claassen sê Lombaard se bakkie is sowat twee kilometer van die toneel af gevind met sy beursie steeds daarin en die sleutel op die bakkie se regteragterwiel. “Net die battery was gesteel. Sy selfoon en pen was steeds in sy sakke toe hy gevind is.”
14 November 2011