
Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die voorval het op die plaas Blinkpan plaasgevind. Volgens hom het die plaasbestuurder en sy 16-jarige dogter met hul aankoms by die plaashuis waar hulle woon, opgemerk die vertrek waar die kragopwekker staan, was oop en die kragopwekker was ontkoppel.
Die man het sy dogter by die huis gelaat en na die vertrek gegaan waar hy twee gewapende mans aangetref het wat hom vermoedelik aangeval het. Hy kon daarin slaag om alarm te maak. Sy dogter het die paniekknoppie in die huis gedruk. Die verdagtes het ’n veiligheidswag wat op die plaas werk, vasgebind.
Toe die eienaar van die plaas sowat 10 minute later by die plaashuis aankom, was die plaasbestuurder en sy voertuig skoonveld. Die polisie en ander belanghebbendes is oor die voorval ingelig.
’n Inwoner van Nkangala wat daarvan gehoor het, het die plaasbestuurder se voertuig opgemerk terwyl die verdagtes daarmee op die Pullenhope-grondpad gery het. Hy het die verdagtes tot by die T-aansluiting op die R35-pad agternagesit. Die verdagtes het glo beheer oor die voertuig verloor en tot stilstand gekom. Twee verdagtes is in hegtenis geneem. Die plaasbestuurder was agter in die voertuig. Hy het kopbeserings opgedoen, vermoedelik omdat hy met ’n geweerkolf aangerand is.
Die polisie het met hul aankoms op die toneel ’n wit vragmotor en ’n wit Nissan-sedan op dieselfde pad opgemerk. Drie insittendes is deursoek en ondervra. Hulle is in hegtenis geneem omdat hulle na bewering saamgewerk het met die twee verdagtes wat reeds in hegtenis geneem was.
Volgens Mohlala dui die polisie se voorlopige verslag aan dat die mans, wat van Zimbabwe afkomstig is, van plan was om mieliesaad op die plaas te steel. Die polisie probeer bepaal of die mans wettig in die land is.
Daar is later vasgestel dat die veiligheidswag wat op die plaas vasgebind was, vermoedelik ook by die voorval betrokke was. Hy is ook in hegtenis geneem. Die ses verdagtes word van onder meer huisbraak en die besit van ongelisensieerde vuurwapens aangekla. Nog klagte kan later teen hulle gebring word. Hulle verskyn môre in die Middelburg-landdroshof.
Mnr. Robert Davel, uitvoerende hoof van Mpumalanga Landbou, sê die inhegtenisneming van die verdagtes beklemtoon die belangrikheid van 'n goed georganiseerde veiligheidstruktuur op grondvlak en die noodsaaklikheid van doeltreffende kommunikasie met die plaaslike polisie. Hy moedig boere aan om by die plaaslike veiligheidstrukture in te skakel.
“ 'n Duidelike boodskap is tot misdadigers gerig dat ons lede nie maklike teikens is nie. Hierdie boodskap moet nou verder versterk word deur skuldigbevinding en behoorlike vonnisoplegging. Daarom is dit belangrik dat die ondersoekspan van alle moontlike hulp en ondersteuning deur die polisie en vervolgingsgesag voorsien moet word.”