
Sinnelose aanvalle op landelike gemeenskappe veroorsaak polarisasie binne gemeenskappe en laat rassespanning verdiep.
Dít is die reaksie van Vrystaat Landbou (VL) ná die aanval verlede week op mnr. Allen Rogers, ’n Amerikaanse plaasbestuurder, op ’n plaas buite Ladybrand. Die organisasie meen aanvalle op plase is ’n aanduiding dat “Suid-Afrika hom meer en meer in ’n moddergat bevind”.
Mnr. Kobus Breytenbach, ondervoorsitter van die VL, sê die aanduidings dat buitelandse beleggings weens die geweld van die provinsie onttrek kan word, sal verreikende gevolge vir die inwoners van die provinsie hê en ontwikkeling landwyd strem. “Werkloosheid en gepaardgaande misdaad is ons voorland in die provinsie.”
Onverstaanbaar
Breytenbach meen dit is onverstaanbaar dat die staat daarop aandring dat werksgeleenthede geskep word en dat planne daarvoor in die Parlement voorgelê word, maar misdaad en moorde wat dit teenwerk, word nie veroordeel en aangepak nie. “Misdaad van watter aard ook al, is teenproduktief vir werkskepping.”
Verder wys die organisasie weer daarop dat die Landelike Beveiligingstrategie wat in Junie verlede jaar in Bethlehem bekend gestel is, nog nie in dié provinsie toegepas word nie.
“Die vraag word gevra of die owerheid nie doelbewus wegskram deur die belange van landelike bewoners te ignoreer nie,” aldus Breytenbach.
Lof
Breytenbach het dié polisielede geloof wat met hul vinnige reaksie en optrede verseker het dat verdagtes in die aanval op Allen aangekeer word. “Ongeag beperkte hulpmiddels doen hulle nog hul werk nougeset en met ’n passie.”
Dié optrede is volgens Breytenbach egter nie waar van alle polisielede in die provinsie nie. “Die SAPD moet wakker skrik en die werklikhede aanpak om ’n verskil te maak.”