’n Volledige lys van plase wat deur die Departement van Arbeid in die Wes-Kaap besoek is, is aangevra, sê Agri Wes-Kaap.
Die organisasie sê hy wil bepaal of die 39 plase wat besoek is, almal aan wit kommersiële boere behoort.
“Dit sal uiteraard interessant wees om te sien of dit net wit kommersiële boerderye is wat besoek is en of daar by opkomende boere en bemagtingingsplase ook inspeksies gedoen is – almal moet tog aan dieselfde wetgewing voldoen,” sê AWK.
Drie plase is glo “gesluit” tydens die besoeke wat Vrydag (30 Maart 2012) deur die departement gedoen is. Dié besoeke het ’n arbeidsimbizo voorafgegaan. Die imbizo is Saterdag (31 Maart 2012) deur me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, in die Paarl aangebied.
Vraagtekens
Mnr. Carl Opperman, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, sê: “Ons het veral ’n probleem met die waninterpretasies van arbeidswetgewing deur die verskillende inspekteurs en sal dit graag regstreeks met die Minister opneem. Ons bevraagteken verder die intensiteit van die sogenaamde ‘oortredings’ op die drie plase wat Vrydag ‘toegemaak’ is.”
Die organisasie het reeds begin met ’n inligtings- en ondersteuningsprogram wat spesifiek op arbeidswetgewing gegrond is. Die organisasie wil deur middel daarvan veral kleiner boere help met die administratiewe las wat arbeidswetgwing op hul skouers plaas.
Mnr. Niel Hamman (jr.), voorsitter van die AWK se beleidskomitee vir arbeid, het op die imbizo spesifiek gewys op die administratiewe las wat arbeidwetgewing plaas op plase – met beperkte kapasiteit vir verskeie take.
Hy sê die feit dat die program saamgestel en deurgevoer word, is egter ’n teken dat die kommersiële landbou daartoe verbind is om aan wetgewing te voldoen.
Die organisasie sê van die boere wat besoek is, sê dat die kwessies wat aan hulle uitgewys is, reeds aandag geniet. Die organisasie sal volledig kan ondersoek doen sodra hy die lys van plase van die departement ontvang het.
2 April 2012