
Gebore uit 'n familie van tuinboukundiges het mnr. Mlibo Qoboshiyane, die nuwe Oos-Kaapse LUR vir landelike ontwikkeling en landbouhervorming, vroeg kennis gemaak met wat dit verg om landbougewasse te produseer.
Qoboshiyane wat me. Zoleka Capa opvolg, was voorheen die provinsie se LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake. Qoboshiyane vertel sy familie het vars gewasse, sitrusvrugte en 'n paar sagtevrugte geproduseer by landgoed no.4 in Misty Mount by die dorpie Libode in die Nyandeni munisipale-gebied in die provinsie. “Dit het my passie gestimuleer om op die land te werk en om voedselsekerheid te verseker.”
Hy was ook die jongste trekkerdrywer in sy familie. "Ek het op die jong ouderdom van 14 al ’n Massy Ferguson 265 bestuur. Ek het lande en sommer ook tuine, teen ’n klein fooitjie, vir my familie geploeg.” Baie van die grootmense bewonder hom steeds vandag oor hoe hy alles ingesit het om gekonfyt in sy taak te word.
Maar dit was nie net die trekkerdrywery wat hom aangegryp het nie. Hy het sommer ook as veewagter ingespring. “Ek het na die beeste en skape gekyk en hulle elke derde Woensdag van die maand na die diptenke gevat. Ek het in hierdie tyd geleer hoe om vee te bestuur, geleer van die medisynemates, hoe om skape in te ent en ramme te kastreer.”
Maar wat is sy planne vir die landbou en landelike ontwikkeling in die Oos-Kaap?
Qoboshiyane wil ’n program dryf wat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Landbouhervorming in staat stel om die bestuur van grondgebruik te fasiliteer, grond te vestig as ’n bron van volhoubare ontwikkeling, behoorlike onderhoud van damme vir vee en goeie vaardigheidsopleiding aan kleinskaalse boere gee.
Hy wil ook sien dat daar voldoende wateropvanggebiede vir bestaansboerdery is, dat landelike infrastruktuur onderhou en gerehabiliteer word, dat die provinsiale landboukolleges herleef en voldoende hulpbronne het en geleenthede bied vir die landelike jeug om in landbourigtings te studeer. Hy wil verder toesien dat die tegnologiese eenheid (voorheen Ecatu) en alle navorsingsinstellings landelike burgers moet ondersteun en alternatiewe tegnologieë teen ’n laer koste as die markte bied. Die tegnologie moet steeds van hoë gehalte en langdurig wees.
Hy glo agro-prosessering en die ontwikkeling van agro-ondernemings, asook die primêre produksie sektor, insluitend sy hele waardeketting, ’n oplossing kan wees om werkloosheid te takel. Die gehalte van vee moet verbeter word, asook voerhokke, veeartsenydienste, en ook die diens wat voorligtingbeamptes aan opkomende boere gee. “Dis vir my belangrik dat die program vir mentorskap versterk word. Ondersteuning aan beide kommersiële boere en opkomende boere is die pad wat voorentoe geloop moet word.”
Qoboshiyane sê die departement kan ook met sy tuisnywerheidsprogram help om armoede te verlig en mense die geleentheid gee om produseerders te word sodat landbou-ondernemings ontwikkel kan word.