
Renosterboerdery het ’n aansienlike hupstoot gekry met die Konstitusionele Hof se besluit om die Regering se moratorium op die handel in renosterhoring ter syde te stel.
Renosterhoring kan nou wettig in Suid-Afrika verkoop en aangekoop word, solank die nodige permitte van die Regering af bekom word. Die wet is egter slegs binne Suid-Afrika se landsgrense van toepassing omdat die internasionale handel van renosterhoring steeds verban is.
Talle renosterboere glo die handel in renosterhoring sal die slagting onder renosters stu, terwyl teenkanting uit bewaringskringe ontvang is.
Struikelblokke
Die organisasies Rhino Alive en Future4Rhino het die besluit verwelkom en het in ’n verklaring gesê dat die nasionale moratorium wat in 2009 op die verkope van renosterhoring ingestel is bygedra het tot renosterstroping deur 'n bestaande wettige mark in 'n onwettige mark te verander. Die organisasies sê hoër pryse vir renosterhoring het dié onwettige mark aangevuur.
“Daar is steeds verskeie struikelblokke in die pad van renosterbewaring en die stryd teen stroping maar hopelik sal private renostereienaars die uitspraak bemoedigend vind en hul renosters versorg. "Renosterstroping sal nie oornag verdwyn nie maar ons hoop dat die verkope van renosterhoring van wettige en etiese bronne sal druk verlig van dié wat teen stroping veg.”
Die organisasies het ook gesê vir die wettige verkope van renosterhoring om 'n daadwerklike impak te maak, moet die internasionale handel ook toegelaat word.