
Die feit dat Yaganias Saga, Lloyd Madumba en Tatenda Mangwenya boonop verlof tot appèl geweier is, verseker dat hulle nie nog hoftyd en belastingbetalersgeld kan vermors nie, sê mnr. Henk van de Graaf, voorsitter van TLU SA se noordstreek.
Alwyn (78) is op 20 Maart 2020 op die plaas Badseloop verwurg. Die mans, wat gister in die hooggeregshof in Polokwane verskyn het, is ook skuldig bevind aan die aanranding van René. Die mans het haar aangerand en haar hande en voete met toue vasgebind.
Regter Violet Semenya het in haar uitspraak gesê dat die plaasmoorde en die wreedheid daaraan nie geduld mag word nie en dat daardie boodskap duidelik gemaak moet word. Haar verdere woorde was die slagspreuk van TLU SA: “Have you eaten today? Thank a farmer.”
“Dit is die tweede keer dat hierdie slagspreuk in ’n uitspraak gemeld word, en ons is bly dat daardie boodskap begin aanklank vind,” sê Van de Graaf.
Cloete-moord
Mukhethwa Goodman Magoma (20) en Engetelo Advance Sambo (18), die verdagtes wat verlede week in verband met die moord op mnr. Louis Cloete (71) en sy vrou, Ina (65), by hul plaas Levubu in hegtenis geneem is, het gister hul eerste hofverskyning in die Vuwani-landdroshof gemaak. Die saak is tot 11 Mei uitgestel.
“Ons is bly dat hulle in aanhouding bly tot dan en dat hierdie terroriste nie die geleentheid kry tot dan om hulle duiwelswerk voort te sit nie,” sê mnr. Fanie Havinga, ondervoorsitter van TLU SA Noord en voorsitter van die Soutpansberg-landbou-unie. “Ons sal beslis probeer om getuienis aan te bied tydens ’n moontlike borgtogaansoek om te verhinder dat hulle vrygelaat word.”