
Die 53-jarige mnr. Edwin Mapstone en sy vrou, Jean, is omstreeks 02:00 op Vrydagoggend (31 Maart) in hul huis op hul plaas naby Thornville aangeval.
“Mapstone is met ’n skerp voorwerp gesteek en doodgeskiet. Sy vrou het ook steekwonde opgedoen, maar het daarin geslaag om te ontsnap en is in 'n plaaslike hospitaal opgeneem vir behandeling,” het lt. kol. Thulani Zwane, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, verduidelik.
Kwanalu, KwaZulu-Natal se landbou-unie, se uitvoerende hoof, me. Sandy la Marque, het die aanval ten sterkste veroordeel. “Ons innige medelye gaan aan die Mapstone-familie. Ons is erg bekommerd oor die sinnelose geweld van hierdie aanval en dring aan daarop dat geregtigheid geskied.
“Die uitwerking van ’n aanval van hierdie aard is nie net vernietigend vir vriende en familie van die slagoffers nie, maar vir die ganse boerderygemeenskap. Dit is ’n aaklige herinnering aan die realiteit van die tye waarin ons leef. Ons kan die noodsaaklikheid dat boere alle moontlike veiligheidsmaatreëls in plek het en dat hulle paraat bly, nie genoeg beklemtoon nie,” het La Marque gepleit.
Die motief vir die aanval is steeds onbekend, ’n saak is geopen en die Thornville-polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord.
“Daar is nog geen arrestasies gemaak nie en ons versoek enigiemand met inligting oor moontlike verdagtes om die Thornvill- polisiekantoor te kontak of Crime Stop by 08600 10111 te skakel,” het Zwane versoek.
- In die komende weke gaan Landbouweekblad en Landbou.com die onderwerp van plaasveiligheid op 'n praktiese vlak help aanspreek. Ons verwelkom deelname en kommentaar van lesers en nooi dus lesers uit om met ons in gesprek te tree oor veiligheid op plase. Deel jou kennis en ervaring oor beveiliging of vertel van jou ervaring. Stuur 'n epos aan cornelia.vdmerwe@24.com of kontak ons deur Twitter of Facebook.