Die moordsaak van die Potgieter-gesin van Tweefontein naby Lindley sal fyn dopgehou word, sê AfriForum.
Luidens ‘n verklaring sal die organisasie die ses verdagtes se verskynings bywoon om die vordering te monitor.
Dié stap volg omdat die publiek nie in die hof toegelaat word nie aangesien een van die verdagtes minderjarig is. Die verdagtes het Woensdag (15 Desember) in die hof verskyn waar geen borg aan hulle toegestaan is nie.
Die saak is na 24 Januarie uitgestel.
Konstruktiewe ommekeer
Mnr. Nantes Kelder, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, meen dit is belangrik dat die negatiewe emosies wat tans in die gemeenskap ervaar word, konstruktief omgekeer moet word. "Dit is belangrik dat die gemeenskap hulself moet mobiliseer in gemeenskapsveiligheidstrukture".
Hy sê dit is ook nodig dat veiligheidstrukture intelligensiegedrewe moet raak. "Sonder 'n doeltreffende inligtingsnetwerk kan misdaad nie voorkom word nie."
Die Potgieter-gesin was glo nie deel van ‘n gemeenskapsveiligheidstruktuur toe hulle op 1 Desember aangeval is nie. Mnr. Attie Potgieter is vermoedelik met ‘n panga en tuinvurk aangeval, terwyl sy vrou Wilma, en hul driejarige dogtertjie, Willimien, doodgeskiet is.
Die ses verdagtes is sowat ‘n dag na die voorval aangekeer.
17 Desember 2010