In ‘n skokkende voorval in die Oos-Vrystaat wat die plaaslike gemeenskap geruk het, is ‘n plaasbestuurder doodgeskiet en sy broer swaar gewond ná ‘n skermutseling met twee aanvallers.
Mnr. Sean Schutte (36) en sy broer Louis (33), wat plaasbestuurders is op die Alpha-landgoed, naby Ladybrand in die Oos-Vrystaat, het twee mans probeer vastrek wat met ‘n pistool op die plaas opgedaag het.
Die twee aanvallers het in die rigting van die Caledonrivier gevlug, met die broers agterna op ‘n vierwielmotorfiets, aldus Volksblad. Die aanvallers is vermoedelik Lesotho-burgers.
Met hul aankoms by die Caledonrivier is Sean doodgeskiet en Louis swaar gewond. Volgens mnr. Bernard Maree, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL), het die swaargewonde Louis vergeefs probeer om sy broer se lewe langs die rivier te red.
Louis word tans vir sy wonde in die Bloemfontein Medi-Clinic behandel en is in ‘n ernstige toestand.
Bron: Volksblad
3 November 2011