
Die plaasaanvallers het met die lyk van ’n vermoorde boer in die kattebak van sy motor rondgery en is doodgeskiet nadat ’n groep boere van die Leeudoringstad-omgewing hulle vasgetrek het. Twee aanvallers is doodgeskiet en een is gewond na ’n skietery tussen die aanvallers en boere van die gemeenskap losgebrand het.
Lees hier meer:
Aanvallers doodgeskiet ná plaasmoord
Daar is beslag gelê op die aanvallers se wapens en die beseerde aanvaller is tans onder arres en polisiebewaking in die hospitaal. Hy behoort vandag in die landdroshof op Leeudoringstad te verskyn. Die klagtes teen hom sluit in moord, ontvoering en huisbraak, luidens OFM.
Kolonel Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Noordwes, het gesê dat ondersoek ingestel word om te bepaal of daar teen die boere opgetree moet word. Die SAPD ondersoek moordsake, maar ’n hof sal na die afhandeling van die betrokke ondersoek belsuit of die boere vervolg gaan word, sê hy.
Die TLU SA het sy kommer daaroor uitgespreek dat die betrokke boere dalk aangekla kan word aangesien dit die verkeerde boodskap aan misdadigers sal stuur.