
Gerapporteerde moorde op plase en kleinhoewes het sedert die 2010/’11 geldjaar met bykans die helfte afgeneem, terwyl gerapporteerde voorvalle van geweld net effens afgeneem het, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Hoewel die aantal gerapporteerde plaasmoorde landwyd van 80 in 2010/’11 tot 49 in 2015/’16 afgeneem het, sê lt.genl. Fannie Masemola, nasionale adjunkkommissaris van polisiëring, dat ’n lang pad nog geloop moet word om te verseker dat landelike gemeenskappe, boere en plaaswerkers veilig is.
Die SAPD, die SA Menseregtekommissie en die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) het voorleggings aan die Parlement se portefeuljekomitee van polisie oor die veiligheidsplan vir landelike gebiede.
Waarnemende kommissaris van Polisie
In 2011 het die polisie sy verbeterde landelikeveiligheidstrategie begin instel en in 2016 het die waarnemende nasionale kommissaris van Polisie landelike veiligheid, insluitende voorvalle van geweld op plase en kleinhoewes, geprioritiseer.
Die landelike veiligheidstrategie is reeds in meeste van die landelike gebiede ingestel. Dié strategie moet nog by ses polisiekantore in die Vrystaat, 27 in Kwazulu-Natal, 29 in die Wes-Kaap en 28 in Noordwes ingestel word.
Gerapporteerde moorde op plase en kleinhoewes het die afgelope boekjaar die meeste in Gauteng voorgekom. Dit was 11 in dié provinsie, nege in Limpopo, sewe in KwaZulu-Natal, ses in Noordwes, vyf in die Wes-Kaap en die Vrystaat, vier in die Oos-Kaap en een elk in die Noord-Kaap en Mpumalanga.
Kontakmisdade
Mnr. Aggrey Mahanjana, hoofsekretaris van Afasa, het die komitee meegedeel dat wit kommersiële boere meer as swart kleinskaalse boere onder kontakmisdade deurloop, maar dat beide erg deurloop onder eiendomsmisdade, soos veediefstal, die onwettige jag met honde of stropery, vandalisering van plaasinfrastruktuur en diefstal.
Hy sê ook dat hoewel statistiek wys dat veediefstal afgeneem het, dit nie met die werklikheid op die grond strook nie. Volgens hom het boere weens die lae inhegtenisneming en vervolging van veediewe opgehou om veediefstal aan te meld.