Die gedagte dat plaasmoorde en -aanvalle ’n oorlog teen boere is, is een van die hooftemas van ’n dokumentêre rolprent daaroor.
Die prent, War of the Flea, is onlangs in Johannesburg vrygestel. Die media het Dinsdagaand (15 November 2011) op ’n geselligheid van die TLU SA ’n uittreksel daarvan gesien.
Mnr. Rian van der Walt, die vervaardiger, sê hy onderhandel tans met die SAUK vir uitsaairegte, maar hy het ook verskeie grootskerm-groepe genader om dit moontlik te vertoon. “Die rolprent is nog nie iewers te sien nie, maar ons hoop om dit binnekort vir mense te kan wys.”
Bewusmaking
Van der Walt sê sy doelwit met die dokumentêre rolprent is bewusmaking en ook om dié boere wat hul lewe verloor het, se storie te vertel. “Ek dink boere moet dit kyk om te sien iemand gee om oor hul situasie, maar ook om hulself in te lig oor dit wat kan gebeur.”
Hy sê hy is verras oor hoe goed die rolprent plaaslik ontvang word, want hy het gedink die plaaslike gemeenskap is nie gereed om so iets te sien nie. Die rolprent is gemaak met internasionale bewusmaking van plaasmoorde ten doel.
Van der Walt sê hy het op Louis Trichardt in ’n boeregemeenskap grootgeword. Hy sê dit het hom altyd gegrief om van plaasmoorde te hoor. Hy het sowat 10 jaar lank met die idee van dié rolprent rondgeloop.
“En ek het finaal besluit om dit te maak ná ek gehoor het van die wrede moord op ’n boer van Louis Trichardt twee jaar gelede. Hy en sy vrou is aan ’n bad vasgemaak, en terwyl hy so vasgemaak was aan sy vrou, is hy doodgeslaan. Ek het net daar genoeg gehad.”
Die naam
Van der Walt sê hy het die idee van die naam by genl. maj. Chris van Zyl, voorsitter van die TLU SA se veiligheidskomitee, gekry. “Ek het aan hom verduidelik hoe ek die aanvalle op boere sien en hy het opgemerk dat dít in militêre taal as die “war of the flea” bekend staan.”
Dié metode van oorlogvoering is mense wat soos vlooie op ’n hond optree. Hulle weet nie noodwendig van wat die ander doen nie, maar al die vlooie byt die hond en hy krap en krap en gaan op die ou end dood.
Die rolprent vertel die detail van hoe die Potgieter-gesin van Lindley grusaam in Desember verlede jaar op die plaas Tweeling vermoor is. Dié voorval het groot opslae gemaak, aangesien die moordenaars Attie en Wilna Potgieter se tweejarige dogtertjie, Willemien, doodgeskiet het. Dit bied die kyker ook ’n blik in die psige van so ’n moordenaar.
Kyk hier na 'n uittreksel uit die rolprent.
16 November 2011