
'n Bejaarde vrou is op 'n plaas in die distrik Theunissen vermoor, terwyl twee mense by Bainsvlei by Bloemfontein ook om die lewe gebring is.
Volgens inligting van die polisie is mev. Martie Bester (68) van die plaas Erfbloem, Theunissen, Maandagoggend vermoor. Die plaashuis is ook aan die brand gesteek.
Luidens 'n nuusverklaring deur Vrystaat Landou is vuurwapens uit die huis gebuit en die aanvallers het met die vrou se bakkie op die vlug geslaan. Dit is nie tans duidelik hoe die vrou gesterf het nie. Die polisie is op die toneel met spoorsnyers en helikopters om na die verdagtes te soek.
Die bakkie is nie ver van die huis af gevind, maar dit is ook aan die brand gesteek.
Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se wet en ordekomitee, sê dit is met skok en afgryse wat die organisasie van die voorval kennis neem. Hy het die hoop uitgespreek dat die verdagtes spoedig opgespoor sal word en na behore vervolg sal word.
* Luidens Netwerk24 is ’n man en ’n vrou van Bloemfontein glo Sondagaand in ’n plaashuis by Bainsvlei, Bloemfontein, vermoor. Twee verdagtes is Maandagoggend vasgetrek.
Die lyke is ’n entjie van die plaashuis, waar die moorde vermoedelik gepleeg is, gevind nadat een van die verdagtes die aand se gebeure aan die polisie uitgewys het.
Die man het nie op die plaas geboer nie. Hy het by die Vergezocht-oliemaatskappy van mnr. Pierre Hugo, gewerk. Talle polisiekonstabels en -ondersoekbeamptes was op die toneel om die raaisel op te los. Die name van die oorledenes kon nog nie bevestig word nie.
Bron: Netwerk24