Nog twee plaasmoorde het die afgelope naweek voorgekom, een in KwaZulu-Natal en die ander in die Noord-Kaap.
Mnr. Nicol Jansen, lid van Agri Oranje Karoo se aksiekomitee, sê ‘n mnr. Wartington, wat in sy laat 70’s was, is vermoor ná hy Saterdagaand (4 September) deur twee mans op die plaas Disselskuil oorval is.
“Die aanvallers het 20:00 by die enjinkamer ingebreek waar hulle die kragopwekker afgeskakel het en die krag ook na die huis afgesny is. Wartington het gaan ondersoek instel, waar hy deur die twee mans aangeval en met ‘n gereedskapstuk aangerand is. Hy is op die toneel aan sy beserings dood,” vertel Jansen.
‘n Skedelbreuk en gebreekte arm
Volgens Jansen het Wartington na sy vrou geroep. Sy is in die kombuis deur die twee mans aangeval en ook aangerand. “Sy het verskeie kop- en gesigwonde opgedoen. Sy het ook ‘n skedelbreuk en een van haar arms is gebreek.”
Me. Wartington is deur die aanvallers vasgebind. Sy kon eers teen middernag daarin slaag om los te kom en hulp te ontbied. Jansen sê dit is nie duidelik of items gesteel is nie. Die mans het met die egpaar se voertuig gevlug.
Me. Wartington is in ‘n hospitaal in De Aar opgeneem. Weens die staking sterk sy tans by vriende aan en gaan daagliks vir behandeling.
KZN-boer geskiet, geslaan
Intussen berig News24.com ‘n 51 jarige boer van die Cramond-distrik naby Pietermaritzburg is ook Saterdag in sy huis vermoor.
Kapt. Thulani Zwane sê mnr. Radash Anandlali is deur sy werkers in sy huis gevind. Hy is met sy eie wapen geskiet en doodgeslaan.
Een van sy werkers is Sondag glo vir die moord aangekeer. “Twee wapens en klere wat aan die slagoffer behoort het, is in sy besit gevind,” vertel Zwane.
Die man het Maandag in die stad se landdroshof verskyn.
7 September 2010