‘n Versoek is aan die Unrepresented Nations and People-organisasie (UNPO) gerig om ‘n feitesending na Suid-Afrika te onderneem om talle kwessie te ondersoek, sê dr. Pieter Mulder, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye en die leier van die Vryheidsfront Plus.
Mulder het dié besoek tydens die 13de algemene vergadering van die organisasie die afgelope naweek in Brussels, België, aangevra. Die organisasie het sowat 50 lidlande en verteenwoordig sowat 200 miljoen mense van minderheidsgroepe in die wêreld.
“Met ’n feitesending kan die organisasie eerstehands menseregte, korrupsie, plaasmoorde, rasseverhoudinge, die posisie van minderhede en die algemene stand van die demokrasie in Suid-Afrika kom vasstel,” verduidelik Mulder in ‘n verklaring. Die organisasie oorweeg tans die voorstel.
Wat doen Mandela?
“Anders as in die verlede was daar groot begrip vir die probleme in Suid-Afrika en is ek baie simpatiek ontvang. Mnr. Nelson Mandela is steeds ’n onaantasbare internasionale ikoon - met die gereelde vraag waarom hy nie iets aan die uitlatings van sy ‘naamgenoot’ Malema doen nie!” vertel Mulder.
“Die les wat ’n mens uit so ’n internasionale byeenkoms leer, is dat as jy reaksie en hulp van die internasionale gemeenskap tydens ’n krisis verlang, dit te laat is om eers tydens die krisis hulle daaroor te probeer beïnvloed. Daarom moet die gunstige en ongunstige gebeure in Suid-Afrika deurlopend onder die internasionale gemeenskap se aandag gehou word.
Té veel buitelanders meen Suid-Afrika verkeer nog in die ‘wittebroodtyd’ van kort ná 1994 met Mandela in beheer en is daarom verward oor die Malema-uitsprake,” aldus Mulder.
20 September 2011