
Dit is noodsaaklik dat syfers oor plaasmoorde en –aanvalle apart van ander misdaadstatistiek aangeteken moet word, sê die Vryheidsfront Plus (VF Plus).
Mnr. Pieter Groenewald, die party se woordvoerder vir veiligheid, sê hy gaan mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, vanjaar oor die kwessie aanvat. “Sedert 2007 word dié statistiek nie meer apart aangeteken nie, en ons dink dit is noodsaaklik. Die minister sê daar is nie werklike bewyse dat van die aanvalle rassisties van aard is nie, maar ons het bewyse om die teendeel aan hom te bewys,” aldus Groenewald.
Buitelanders betrokke?
Intussen sê die party volgens me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, Minister van Korrektiewe Dienste, word 3 450 buitelanders tans in Suid-Afrikaanse tronke aangehou vir moord, poging tot moord, roof en verkragting. ‘n Totaal van 8 580 buitelanders sit tans in die land se tronke.
Groenewald sê weens die feit dat plaasmisdaadsyfers nie meer apart aangeteken word nie, kan daar nie bepaal word hoeveel van die misdadigers by plaasmoorde en –aanvalle betrokke was nie.
“Uit die feit dat dit egter uitgewys word as buitelanders by plaasmoorde betrokke was, kan ‘n mens wel die afleiding maak dat van dié verdagtes daarvoor aangehou word.”
Zimbabwiërs, Mosambiekers
Van dié buitelanders word die meeste Zimbabwiërs en Mosambiekers (73,3%) vir moord aangehou. Die twee lande se burgers is ook baie betrokke by roof met verswarende omstandighede (86,02%), gewone roof (85,5%), poging tot moord (75,5%), ernstige aanranding (80,9%), huisbraak (75,6%) en verkragting (70,5%).
“Dié syfers is ‘n bewys dat grensbeheer, veral met Zimbabwe en Mosambiek, opgeskerp en strenger toegepas moet word. Die pogings van Binnelandse Sake om veral Zimbabwiërs se dokumentasie in orde te kry, of anders word hulle gedeporteer, moet in die praktyk toegepas word,” sê Groenewald.
19 Januarie 2011