
Hy het by die bekendstelling van die bank se landbouvooruitskouing vir 2015 gesê plaaspryse het sedert 1994 “ondanks die ANC” gestyg en dié neiging sal voortduur, omdat dit deur die ekonomie bepaal word.
Janovsky verwag ’n groot belegging in grondhervorming, maar sê dit moet op ’n ekonomiese grondslag gebeur. Hy was optimisties dat gesprekke oor grondhervorming deesdae meer gaan oor hoe geld gemaak kan word as bloot oor bemagtiging.
Dr. John Purchase, hoof- uitvoerende beampte van die landbousakekamer Agbiz, en me. Lindie Stroebel, bestuurder van sake-inligting, is ook optimisties dat die waarde van landbougrond gaan bly styg. Hulle verwag dat plaaswaardes, buiten dié waar graan verbou word, stewig sal styg omdat netto plaasinkomste na verwagting gaan bly styg.
Purchase en Stroebel het in ’n verklaring oor die vooruitsigte vir 2015 gesê netto plaasinkomste in graanproduserende gebiede sal egter na verwagting redelik plat bly.
Daarom verwag hulle nie groot stygings in hierdie plaaspryse nie. Graanplase se pryse sal egter na verwagting wel relatief hoog bly, in ooreenstemming met internasionale plaasprysneigings.
Purchase en Stroebel is bekommerd oor die invloed wat onsekerheid rondom die Regering se grondhervormingsbeleid op plaaspryse kan hê en sê dit kan waarskynlik in baie gebiede ’n demper op plaaspryse plaas. Hulle is veral bekommerd oor die hoogs omstrede kwessie van “beperkte omvang” oftewel die voorgestelde grondplafonne rakende eienaarskap van landbougrond.
“Hierdie voorstel van die Regering is in stryd met ekonomiese beginsels van ’n markekonomie en huidige markkragte. Inwerkingstelling van die Nasionale Ontwikkelingsplan se grondhervormingsmodel, sónder grondplafonne, sal egter ’n groot stap in die regte rigting wees om vertroue in die landbou- en landboubesigheidsektore te kweek.”
Die styging in pryse van Suid-Afrikaanse landbougrond strook met wat in baie ander lande gebeur. Die Britse publikasie Western Morning News het onlangs berig oor die Knight Frank-indeks vir plaasgrond waarvolgens die gemiddelde waarde van landbougrond in Brittanje in ‘n jaar se tyd met 15% gestyg het, en in die laaste dekade met 187%.
Vir boere wat wil aftree is dit goeie nuus, maar nie vir jong mense wat die landbou wil betree nie.
Wil jy ’n plaas koop of huur? Klik hier vir Landbou.com se Plase te koop-afdeling.