
Krieketafrigting by drie plaasskole het ’n welkome hupstoot van Senwes se Spinners-krieketontwikkelingsprogram ontvang. Die drie skole sal voortaan beter toegerus wees om leerders se krieketdrome te bewaarheid.
Luidens ’n verklaring het die Primêre Skool Rabana op Ventersdorp en die Intermediêre Skool Manana op Lichtenburg elk ’n Flicx-oefenmat ontvang, terwyl ’n boulmasjien aan die Primêre Skool Humansvlakte op Bothaville geskenk is. Die toerusting is aangekoop met geld wat verlede jaar tydens ’n projek deur Senwes en Noordwes-krieket ingesamel is. Vir dié projek is Springbokklere en -aandenkings verkoop.
Lewensvaardighede ontwikkel
Mnr. Francois Strydom, besturende direkteur van die maatskappy, sê krieket as sport het ’n spesiale plek in die Suid-Afrikaanse samelewing, en hulle meen plaasskole word nog benadeel wat die ontwikkeling van dié sport betref.
“Hoewel ons graag ’n Makhaya Ntini of ’n Mark Boucher uit die program sal wil sien ontwikkel, is die lewensvaardighede wat hierdie leerders bykry van onskatbare waarde en op sigself dié beste opbrengs op dié belegging,” aldus Strydom. Hy sê hulle het ook al beurse aan vyf leerders van sekondêre skole toegeken en hulle hoop om dit in die toekoms te kan volhou.
Me. Susan van Jaarsveld, hoof van die Primêre Skool Rabana, sê hul leerders het nie toegang tot behoorlike sportfasiliteite nie: “Ons leerders moet sokker in die veld speel en krieket op ’n halwe netbalbaan; daarom wil ons Senwes graag vanuit die diepte van ons hart bedank.”
Die Senwes Spinners-program word reeds die afgelope ses jaar aangebied.
Foto:
Voor van links: Ephraim Merementsi (Manana Intermediêre Skool), William Makokwe (Manana Intermediêre Skool), Heinrich Strydom (Noordwes Krieket), Johan Grobler (Senwes Korporatiewe Bemarking) en Ismail Minty (Noordwes Krieket).
Agter van links: Susan van Jaarsveld (Rabana Primêre Skool), Bazil Clarke (Noordwes Krieket), Francois Strydom (Senwes), Peter Mosikidi (Rabana Primêre Skool), Japie Fransman (Senwes Korporatiewe Bemarking), Allan Meyer (Humansvlakte Primêre Skool), Gerrit van Zyl (Senwes Credit) en Joe Maswanganyi (Senwes Korporatiewe Dienste).