Minstens vyf plaasaanvalle waarin drie boere vermoor is, het die afgelope paar weke skokgolwe deur die landbougemeenskap gestuur.
Agri SA meen daar is reeds vanjaar meer aanvalle as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, maar ’n tekort aan amptelike statistiek in dié verband maak dit moeilik dit te bewys.
“Die situasie is onaanvaarbaar,” sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA. Hy het boere gemaan om paraat te wees en hulself só te posisioneer dat hulle teen misdaad kan optree.
“Die landbou is in ’n skaakmatsituasie en die onus rus op elke boer om te sorg dat sy of haar plaas veilig is.” Voorkomende optrede is nodig indien Suid-Afrika plaasaanvalle ’n nekslag wil toedien, sê mnr. André Botha, voorsitter vir van Agri SA se landelike beveiligingskomitee.
Toename
“Daar is jaarliks ’n toename in plaasaanvalle in Januarie en Februarie. Ons vermoed dít hou verband met die hoër ekonomiese druk waaronder mense dié tyd van die jaar verkeer,” sê Botha.
Botha sê ten spyte daarvan dat die landelike beveiligingsplan goedgekeur is, word dit nie na behore toegepas nie. “Volgens die plan moet daar deurlopend ’n patrollievoertuig in ’n distrik wees sodat onbekende voertuie dopgehou en verdagtes ondervra kan word. By polisiekantore word dié plan nie na behore uitgevoer nie. “
Mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê die polisie het flink opgetree ná die moorde.
27 Januarie 2012