
Die Agri Securitas-trustfonds het pas finansiële steun bewillig vir Vrystaat Landbou se uitgebreide aksie om plaasmisdaad te bekamp. Dié geld gaan aangewend word vir die finansiering van Vrystaat Landbou se nuut gestigte veiligheidslessenaar en vir die oprigting van 'n radio-herhaler wat Philippolis se landbougemeenskap bedien. Albei die projekte sal 'n bydrae maak in die stryd teen landelike misdaad, omdat dit op voorkomende optrede ingestel is, aldus 'n mediaverklaring van Agri SA.
“Ten spyte van goeie werksverhoudinge tussen die boerderygemeenskap en die Regering se veiligheidstrukture op nasionale en provinsiale vlak, bly vlakke van geweld en misdadigheid steeds hoog. Daarom ondersteun die trustfonds inisiatiewe vir misdaadbekamping deur die boerderygemeenskap om hulself teen misdaad te beskerm en wat binne die wetlike raamwerk val,” sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas-trustfonds.
Die veiligheidlessenaar sal onder meer misdaadtendense wat 'n effek op landbouers in die provinsie mag hê, bepaal en dienooreenkomstig aksieplanne opstel waarvolgens optredes uitgevoer sal word om die misdaad aan bande te lê. Die optrede van die lessenaar sal die uitvoering van Vrystaat Landbou se landelike beveiligingsplan ondersteun wat geskoei is op die landelike beveiligingstrategie van die polisie. Die lessenaar streef ook daarna om funksionele samewerking tussen landbouers en die polisie op plaaslike vlak te bevorder.
Ondoeltreffende kommunikasie skep probleme met die bekamping van misdaad, die beveiliging van plase en die beheer van veldbrande. Een so 'n geval is die Philippolis-distrik waar die landbougemeenskap genoodsaak is om 'n radio-herhaler op te rig om hulle noodkommunikasie te verbeter. Die herhaler sal die radiostelsel in die gebied ondersteun deurdat alle landbouers nou daarop sal kan inskakel.
“Die veiligheid van ons landbouers is 'n prioriteit omdat hulle sorg vir volgehoue voedselproduksie en ook 'n bydrae tot landelike ontwikkeling maak. Hulle moet beskerm word as 'n bate vir die toekoms en die trustfonds sal voortgaan om verdienstelike versoeke, gunstig te oorweeg,” sê Grobler.
Bron: Agri SA, direktoraat: korporatiewe skakeling