
Landbouweekblad het onlangs berig oor die selfverdediging-onderneming True Survival, wat Jan Alleman tegnieke leer wat spesifiek vir Suid-Afrikaanse omstandighede en situasies ontwikkel is.
'n 20-jarige student van dié True Survival-selfverdedigingskool in Somerset-Wes vertel hoe hy laataand huis toe gestap het en onraad vermoed het toe twee mans hom inwag.
Gevallestudie
“Die voorste man het 'n denimbaadjie aangehad en sy lyftaal het weggegee dat hy 'n mes in sy mou wegsteek. As die voorste een 'n mes het, het die agterste een beslis ook.
“Hulle was vriendelik en het vir geld gevra en gesê hulle is honger. Ek het ook eers vriendelik en onskuldig met hulle staan en praat, maar gewag dat die mes uit die mou gly.
“As daai mes uitkom en jy weet nie waarvoor om te kyk nie, sink hulle hom vinnig in jou maag in. Vir bystanders gaan dit lyk of hy jou soos 'n ou vriend omhels. As jy jou teësit, kom 'n tweede man van die kant of agter af en steek jou blitsvinnig todat jy te swak is om verder te baklei.
“Hulle het ongeskik geraak en vir my foon gevra. Die agterste man het gesê hy wil my meisie bel en bietjie vir haar gaan kuier en met haar speel. Dis alles 'n taktiek om jou skrik te maak of uit te lok.
“Toe die mes uit die voorste man se mou gly, skiet ek met my hele lyf op. My regterelmboog het hom hard op sy lugpyp getref, en my linkerarm was onder sy arm ingedruk, tot agter sy skouer, om die arm met die mes weg te hou. Ek het hom as 'n skild gebruik en die agterste man gestorm sodat hy my nie kan aanval nie.
“Die impak en hou op sy lugpyp het die eerste man van balans gegooi. Hy het my halfhartig in die gesig probeer slaan met sy ander elmboog. Ek’t hom dadelik met die knie tussen die bene geslaan, sy skouer afgetrek en hom gebukkend in die agterste een vasgegooi.
“Terwyl hy gebuk agtertoe gestruikel het, het ek hom hard in die gesig geskop. Hy sak toe net daar inmekaar. Die agterste het gestruikel en sy mes laat val. Toe hy skarrel vir sy mes, was ek klaar op hom en het sy kop gegryp en dit met my knie geslaan. Albei was uit en aan die slaap. Die hele insident het skaars 10 sekondes geduur."
LEES OOK: Plaasveiligheid - wanneer mag jy skiet?
Wat om te verwag
Leëhandaanval. 'n Mens wat jou met sy kaal hande takel, is gewoonlik groter en sterker as jy. Só iemand maak baie staat op aggressie, dreigemente en geweld om jou te laat terugstaan. 'n Leëhandsituasie is onvoorspelbaar. Om iemand sonder 'n wapen te oordonder, moet die aanvaller die slagoffer seermaak – platslaan of teen die grond neergooi.
As jy op die grond neergegooi word, veg om op jou voete te kom. 'n Gestoeiery op die grond is fataal. Iemand wat weet wat hy doen, kan selfs 'n groot man vinnig baasraak. In Suid-Afrika is daar ook selde net een aanvaller. Terwyl jy probeer om op die grond te stoei, slaan 'n ander ou jou met ’n baksteen.
Mesaanvalle. Messe is die moeilikste wapen om jouself teen te verdedig. Sommige vorme van selfverdediging wek die wanindruk dat jy kan keer of die hand met die mes kan vasgryp. Aanvallers steek egter vinnig en herhaaldelik.
“As jy lees van iemand wat 14 keer gesteek is, is dit dikwels iets wat in die terugbaklei gebeur het. Iemand wat herhaaldelik in die buik gesteek is, kan aanhou baklei asof hy nie weet hy’s beseer nie. Snywonde is aaklig en lelik, maar waaroor jy moet bekommerd wees, is steekwonde in jou toraks of slagare wat raakgesteek of gesny word,” sê Jacques van der Westhuizen, eienaar en hoofinstrukteur van True Survival.
“As jy jouself teen 'n mes verdedig, is die belangrikste ding om te verstaan dat jy nie kan aarsel nie – die aanvaller maak daarop staat en kom vreesloos vorentoe. As jy begin terugbeweeg, gaan hy jou in die een of ander stadium raaksteek.
“Die regte manier om dit teen te staan, is om vorentoe te gaan. Dis nie 'n maklike ding nie – ons bestee ure daaraan om daai vrees te bowe te kom en vinnig vorentoe te tree sodra jy die mes sien. Moenie vir die hand mik nie – dit is die deel wat die vinnigste beweeg. Kry die bo-arm in die hande. Al mors jy die tegniek heeltemal op, druk deur en hou styf vas.
Vuurwapens. Dit is vir 'n aanvaller met ’n vuurwapen maklik om iemand dood te maak – dié wapen is nie naastenby so persoonlik of wreed soos byvoorbeeld 'n panga-aanval nie. Geskoolde, bekwame skuts het ongelukke met vuurwapens – soveel te meer 'n onbekwame mens vol adrenalien wat pas jou huis betree het.
“ ’n Man wat ek ken, het ná 'n braai net aangesit vir ete toe vier jong mans met AK47-gewere die huis binnegeval het. Hy sê waaroor hy die hele tyd bekommerd was, was of hulle iemand per ongeluk gaan raakskiet. Dit was kinders – 19, 20 jaar oud – wat fisiek staan en bewe, so vol adrenalien was hulle.”
Met die meeste vuurwapens, veral as jy gespanne is, hoef jy jou vinger net 'n aks te beweeg om 'n skoot te vuur. Daarom is tydsberekening deurslaggewend gedurende selfverdediging teen 'n aanvaller met ’n vuurwapen. Die aanvaller se aandag moet afgetrek word.
“Gelukkig is dit dikwels die geval tydens 'n rooftog of inbraak. Die rower het 'n doel voor oë en wil dit so spoedig moontlik afhandel. Laat toe dat sy gierigheid sy aandag aftrek.”
Iemand wat 'n vuurwapen op jou rig en nie skiet nie, wil 'n punt bewys of iets hê. Jy moet dit uitbuit en die regte oomblik kan raaksien of skep.
Op die internet sien 'n mens gereeld selfverdedigingsvideo’s van mense wat 'n pistool vasgryp en die aanvaller slaan. In werklikheid word mense maklik raakgeskiet wanneer hulle só hulself probeer verdedig.
“Gestel jy gryp die pistool vas en slaan met die ander hand. Jy sal nie sommer 'n groot, sterk man met een hou katswink slaan nie. Sy natuurlike reaksie is om weg te ruk, en met 'n vinger op die sneller, vuur hy 'n skoot af sonder dat hy dit bedoel.
“Selfs al slaan hy soos 'n sementsak agteroor, is jy nie sterk genoeg om iemand met een hand regop te hou nadat jy 'n barshou geslaan het nie.”
As jy aan die pistool vasklou, word dit op jou gerig soos hy agteroor val. Só kan jy maklik per abuis geskiet word.
“Vuurwapenverdediging is betreklik maklik, maar jy moet die korrekte opleiding ontvang. Die Kalah-tegnieke wat ons gebruik is wêreldbekend en word selfs deur die Israeliese weermag as hoogs doeltreffend geag en aanbeveel.”
LEES OOK: Veiligheid - waak teen waarskuwingskote
Langafstandwapens. Pangas, knopkieries en krieketkolwe is vreesaanjaend, maar die maklikste wapens om jouself teen te verdedig as jy weet hoe. Iemand met 'n panga is dikwels baie kordaat omdat dit so 'n intimiderende wapen is, maar om dit doeltreffend te gebruik, moet hy 'n groot beweging maak. As jy aggressief vorentoe beweeg en hom vasgryp, val sy vermoë om dié wapen doeltreffend te gebruik plat.
Dit sal onverantwoordelik wees om die beginsels van selfverdediging net op papier te verduidelik. Gaan na die regte mense en kry die regte opleiding. Kontak True Survival by e-pos: info@truesurvival.co.za; sel 082 670 5279.