
Twee mans het Dinsdag (3 Julie 2012) het in die landdroshof op Ventersdorp verskyn ná ’n 52-jarige plaaswerker ernstige beserings in ’n beweerde diefstal-voorval opgedoen het.
Me. Wilhelmina du Toit het Sondag (1 Julie 2012) by die varkhok op die plaas op ’n erg beseerde Frans Modisa afgekom. Modisa was een van haar werkers.
Luidens ’n mediaverklaring het sy die Polisie na die plaas Klippan ontbied. Met die Polisie se aankoms op die plaas, het noodpersoneel Modisa reeds in ’n ambulans gehad om hom hospitaal toe te neem. Hy kon nie inligting oor die voorval aan die Polisie verskaf nie, want hy was weens ernstige kop- en armbeserings nie in staat om te praat nie.
Veediefstal
Volgens die Polisie het Du Toit ook ’n saak van veediefstal aangemeld omdat een van haar varke gesteel is. Du Toit het aangedui dat sy weet wie die verdagtes is, aangesien ’n kruiwa se spoor van die varkhok af tot by hul huis gelei het.
Die beamptes het die spoor gevolg en ’n vark se karkas buite die struktuur gevind. Twee mans is in hegtenis geneem. Die twee is aanvanklik van aanranding met die doel om ernstig te beseer en veediefstal aangekla.
Dié klagte is verander na moord en veediefstal ná Modisa Maandag (2 Julie 2012) weens sy beserings in die hospitaal oorlede is.
Elias Motshwaiwa en Paul Moloto is met hul eerste hofverskyning borgtog geweier sodat die Polisie die saak verder kan ondersoek. Hulle verskyn weer op 9 Julie in die hof. Die Polisie vra enigeen wat moontlik meer inligting oor die aanval op Modisa het, om na vore te kom.