
Adj.off. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê ’n 62-jarige vrou het op die verdagte in haar huis afgekom waar hy besig was om in haar laaie te krap. Toe hy haar sien, het hy haar na bewering gegryp, gewurg en aangerand voor hy van die toneel gevlug het.
Die slagoffer is na ’n hospitaal in Bloemfontein geneem vir mediese behandeling. ’n Saak van poging tot moord is geopen.
Die polisie van Trompsburg, Springfontein en Colesberg het na die verdagte gesoek. Hy is gister (14 Julie) in die distrik Colesberg in hegtenis geneem.
Die 39-jarige verdagte verskyn op Maandag 18 Julie in die Trompsburg-landdroshof.