Die uitruilprogram vir plaas- en kelderwerkers en kaasmakers uit die Wes-Kaap om in Boergondië, ‘n Franse provinsie, te gaan kennis opdoen, is vir nog vyf jaar verleng.
Mnr. Gerrit van Rensburg, provinsiale minister van landbou, het dié aankondiging by die tweejaarlikse viering van Chardonnay by De Wetshof op Robertson aangekondig.
Dié inisiatief is in 2002 vir die eerste keer in Dijon, Boergondië onderteken. Sedertdien is daar elke jaar tussen tien en vyftien histories-benadeelde werkers uit die wynbedryf en ‘n handvol kaasmakers na Frankryk gestuur om sowat twee maande lank praktiese en teoretiese kennis op te doen.
Suid-Afrika het al aansienlik gebaat wat betref die uitruil van kundigheid, waardetoevoeging, opleiding en die opdoen van kennis oor gehaltevoedsel en gehaltestandaarde.
“Hierdie program was vir baie van die plaas- en kelderwerkers ‘n lewensveranderende ervaring,” meen Van Rensburg.
Chardonnay is een van die belangrikste wynkultivars wat in Boergondië groei. Die druifsoort word die afgelope 29 jaar met welslae in Suid-Afrika verbou. Mnr. Danie de Wet, eienaar van De Wetshof-landgoed, word alom as die vader van Chardonnayproduksie in Suid-Afrika beskou.
18 November 2010